
Droogte- en hittestremming kan vinnig redelike groot opbrengsverliese veroorsaak onder somergrane wat tans in die stadium is waartydens pitvul en -ontwikkeling plaasvind. Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die meeste somergrane is tans in dié stadium.
Van den Berg sê ’n bydraende faktor tot die droogteskade is dat baie somergrane swakker wortelstelsels ontwikkel het vanweë die goeie neerslae wat vroeër in die seisoen gereeld voorgekom het. Weens die baie nat toestande was dit nie nodig om ’n diep wortelstelsel te ontwikkel nie of wortelontwikkeling was onmoontlik omdat wortels nie in vrywater dieper kon afbeweeg in die grond nie.
Die gebiede waar droogtestremming veral ervaar word, is die Oos-Vrystaat en Mpumalanga met vlakker grond, asook gebiede waar onkruidbestryding ’n probleem is.
Die toestand van weiding is wel baie goed. Grasvelde het baie saad geproduseer en in veral die Karoo en die Kalahari kon weiding ná jare van droogte begin herstel. Karoobossies kon vegetatief al begin herstel. Selfs plante wat dood gelyk het, het hier en daar nuwe uitloopsels begin maak. Totale herstel ná die jare lange droogte gaan egter jare duur.
Reënvaltoestande
“Wat verdere reënval betref, is reënvaltoestande vir bykans die hele land, met die uitsondering van die verre noordoostelike gebiede, op kort termyn ongunstig tot ongeveer middel Maart,” sê Van den Berg. “Toestande kan geleidelik begin verbeter oor die oostelike dele van die land vanaf die eerste week van Maart, en in die tweede en derde week weswaarts uitbrei. Vanaf middel Maart lyk toestande weer goed vir verdere goeie neerslae oor groot dele van die land.”
Tropiese storms
Die droër toestande wat tans heers, kan volgens Van den Berg toegeskryf word aan die tropiese stormaktiwiteite in die westelike Indiese Oseaan. Die sikloon wat tans voorkom, genaamd Emnati, gaan die sentrale tot suidelike dele van die ooskus van Madagaskar rondom vanaand (22 Februarie) tref met windsnelhede van ongeveer 180 km/h.
“Dit gaan vinnig verswak met windsnelhede wat reeds teen Woensdagoggend (23 Februarie) behoort te halveer. Die huidige voorspelling is dat Emnati omtrent reg suidwaarts gaan beweeg wanneer dit Madagaskar verlaat. Dit hou dus nie ’n risiko vir Suider-Afrika in ten opsigte van oormatige reën nie.” Van den Berg sê die tropiese aktiwiteite van die afgelope weke versteur die vloei van tropiese vog vanuit Sentraal-Afrika, met ’n sterk hoogdrukstelsel wat tans baie warm toestande met minder reën tot gevolg het.
Op kort termyn word nie voorspel dat verdere sterk tropiese stelsels aktief gaan wees ná Emnati nie, hoewel swakker tropiese stelsels wel kan voorkom in veral die Mosambiekkanaal. “Daar het ook ’n effense afkoeling begin plaasvind in die oppervlaktemperature van die Indiese Oseaan rondom, maar veral noord van Madagaskar, wat die frekwensie en intensiteit van tropiese laagdrukaktiwiteite kan laat afneem. Dit kan dan weer sorg dat die reënvaltoestande oor Suider-Afrika sal verbeter.”
Winterreëngebied
Wat die winterreëngebied betref, bestaan ’n kans op ligte reën in die eerste week van Maart, oor veral die Suid-Kaap.
Van den Berg sê wat die res van die week betref, gaan temperature weer styg oor die grootste deel van die gebied en rondom die naweek kan maksimum temperature in die Breëriviervallei tot bokant 40 °C styg en verder suidwaarts, soos in die distrik Paarl, tot meer as 35 °C. Dit gaan koeler wees in die noordelike dele van die Overberg, asook langs die Suidkus, met meer bewolkte toestande en ligte reën wat moontlik is.