
Weervoorspellings bly onseker met die Niño-gebiede wat tussen La Niña en neutraal wissel op die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI). “Een van die belangrikste elemente wat onsekerheid veroorsaak, is juis die voorkoms van tropiese laagdrukstelsels soos die sikloon Freddy in die Indiese Oseaan,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Freddy gaan na verwagting vir ten minste die volgende twee weke hoofsaaklik ’n ongunstige uitwerking op reënval hê oor die sentrale tot westelike dele van Suid-Afrika. Swaar neerslae kan egter voorkom in die noordelike en noordoostelike dele van die land, na gelang van die roete wat Freddy en latere oorblywende tropiese laagdrukstelsels kan volg.
Op langer termyn verbeter die kans op reën weer vanaf ongeveer middel Maart oor veral die sentrale dele van Suid-Afrika. “Die groot gevaar is dat daar steeds afsnylaagdrukstelsels en intense reënval oor kleiner gebiede kan voorkom,” sê Van den Berg.
Volgens weermodelle is daar nog ’n kans op reën oor die westelike dele van Suid-Afrika teen einde Maart en selfs April. “Tradisioneel word La Niña-verskynsels geassosieer met reën tot in Mei en dit is moontlik dat oorblyfsels van La Niña se effek (al het die La Niña verswak) steeds reën kan veroorsaak. Dus lyk dit asof die westelike en suidwestelike dele van Suid-Afrika (soos die Kalahari en Karoo) nog reën kan verwag, maar dit gaan waarskynlik gemiddelde tot ondergemiddelde reënval wees.”
Winterreëngebied
Van den Berg sê namate die winter nader kom, begin frontale stelsels reeds vanuit die suidweste oor die land beweeg, soos die stelsel wat op 20 Februarie reën en laer temperature oor die Wes-Kaap veroorsaak het. “Die volgende frontale stelsels met die potensiaal vir ligte reën kan in die tweede en derde week van Maart voorkom.”
Namate frontale stelsels vinnig oor die land beweeg, word dit vervang deur die invloed van ’n hoogdrukstelsel en baie hoë temperature. “Dagtemperature kan dus weer styg tot bokant 35 °C oor die binneland van die Wes-Kaap van ongeveer 26 Februarie tot 6 Maart.”
Intussen het damvlakke in die Wes-Kaap gedaal tot onder 50%. Luidens ’n verklaring het mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, ’n versoek tot al die provinsie se munisipaliteite gerig om hul watersekerheid te evalueer en om te oorweeg om beperkings in te stel waar nodig.
Volgens die departement van waterwese se nuutste damvlakverslag staan die Wes-Kaap se damme op ’n gemiddelde vlak van 49,7%, met die damme wat water aan Kaapstad verskaf wat 56,4% vol is. Op die ooreenstemmende tyd verlede jaar was die provinsie se damme 65% vol en die stad se damme was 80,8% vol.
Bredell sê sy departement sal met elke munisipaliteit skakel om hul watersituasie na te gaan en waar nodig eerder vroeg waterbeperkings in te stel, “terwyl daar steeds opsies beskikbaar is”.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.