Gemiddelde tot bogemiddelde reënval word vir die res van November, die hele Desember en die eerste deel van Januarie oor groot dele van Suid-Afrika voorspel.
Boere in die Oos-Vrystaat en Mpumalanga hou die wolke bekommerd dop omdat planttyd in dié gebiede verbygaan, terwyl landerye plek-plek te nat is om in te kom. “Die meeste aanplantings van mielies en sojabone moet voor einde November reeds opkom, want te laat aanplantings kan tot oesverliese lei as gevolg van te min hitte-eenhede, koue toestande en vroeë ryp,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Meer as 50 mm word in die volgende week oor die sentrale tot oostelike dele van Suid-Afrika verwag, wat aanplantings verder gaan vertraag. Verdere reën is moontlik vir bykans die res van November en die risiko bestaan dat sommige boere hul aanplantings baie laat gaan afhandel of sommige aanplantings nie gaan kan doen nie.”