Hierdie kantelpunte gaan egter baie kapitaal verg en tegnologies intensief wees, waarsku prof. Guy Midgley, tussentydse direkteur van die skool vir klimaatstudies aan die Universiteit Stellenbosch, in die artikel “Potential tipping points for climate change adaptation costs” in die vaktydskrif Climate and Development.
Volgens Midgley en sy medeskrywers word daar te veel klem gelê op laerisiko-aanpassingsresponse, meestal omdat daar soveel onsekerheid is oor wat die impak van klimaatsverandering gaan wees. Afrika se vermoë om aan te pas, word egter rééds as beperk beskou.
In die jongste verslag van die interregeringspaneel oor klimaatsverandering is die oorskryding van aanpassingsperke uitgewys as een van die grootste risiko’s wat Afrikalande in die gesig staar. Die artikel het drie fases van menslike aanpassings by ’n veranderende klimaat geïdentifiseer.