Die hoër vraag na water en die beperkte voorraad daarvan maak dit noodsaaklik dat meer gedoen moet word om die impak van klimaatsverandering en gepaardgaande waterstres en -risiko’s in Afrika te versag, sê die Wêreldmeteorologiese Organisasie (WMO).
Luidens die organisasie se derde verslag oor die toestand van die klimaat in Afrika in 2021, wat met die samewerking van die Afrika-unie-kommissie en ander klimaatskenners saamgestel word, is ekstreme weer en klimaatsverandering nie net ’n gevaar vir mense se gesondheid en veiligheid, voedsel- en watersekerheid, maar ook vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling.
Terwyl Afrika verantwoordelik is vir die vrystelling van slegs 2-3% van die wêreld se kweekhuisgasse, gaan dit disproporsioneel onder die impak van klimaatsverandering gebuk. Die verslag lê veral klem op water en lui dat ’n geraamde 250 miljoen mense in Afrika deur hoë waterstres geraak word.