
Luidens die verslag deur die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) is reeds in 2018 bevind dat ’n buitengewone poging nodig is om aardverwarming tot 1,5 °C te beperk. Vyf jaar later is die probleem selfs groter weens die voortdurende vrystelling van kweekhuisgasse.
“Die tempo en skaal van wat sover gedoen word, asook huidige planne is onvoldoende om klimaatsverandering te stuit,” lui die verslag. “Meer as ’n eeu van fossielbrandstowwe brand, asook ongelyke en onvolhoubare krag- en grondgebruik het gelei tot aardverwarming van 1,1 °C hoër as voor die industriële tyd. Dit het gelei tot meer gereelde en meer intense uitermatige weerverskynsels wat ’n gevaarliker impak op die natuur en mense in elke gedeelte van die wêreld het.”
Vatbaarste mense, ekostelsels hardste getref
Voedsel- en wateronsekerheid sal na verwagting weens aardverwarming toeneem. Wanneer dit met ander verskynsels soos pandemies en konflikte gekombineer word, kan dit luidens die verslag selfs moeiliker word om dié onsekerheid te bestuur.
Me. Aditi Mukherji, een van die 93 skrywers van die verslag, sê aangesien die kwesbaarste mense en ekostelsels die hardste deur klimaatsverandering getref word, is klimaatsgeregtigheid noodsaaklik. “Bykans die helfte van die wêreld se bevolking lewe in gebiede wat uiters kwesbaar vir klimaatsverandering is. Die afgelope dekade was die dodetal van vloede, droogte en storms 15 keer hoër in dié gebiede.”
Die verslag bevind dat daar hierdie dekade vinniger opgetree moet word teen klimaatsverandering om die gaping te verklein tussen bestaande aanpassings en dit wat nodig is. Terselfdertyd moet die vrystelling van kweekhuisgasse in alle sektore spoedig en volhoubaar verminder word.
Die ontwikkeling van klimaatveerkragtigheid sal egter volgens die verslag voortdurend moeiliker word namate die aarde verder verwarm. “Daarom sal die keuses wat in die volgende paar jare gemaak word, ’n belangrike rol speel in hoe ons toekoms en toekomstige generasies s’n uitspeel.”
Luidens die verslag is daar voldoende globale kapitaal om die vrystelling van kweekhuisgasse spoedig te verminder indien bestaande struikelblokke verwyder word. “ ’n Toename in klimaatsbelegging en duidelike aanduidings aan beleggers is noodsaaklik om dié struikelblokke te verminder. Beleggers, sentrale banke en finansiële reguleerders kan ook ’n rol speel.”
Klimaat, ekostelsels en samelewing verbind
Aangesien die klimaat, ekostelsels en die samelewing alles aan mekaar verbind is, bevind die verslag dat die doeltreffende bewaring van 30% tot 50% van die wêreld se grond, vars water en oseane sal help om die planeet se gesondheid te verseker.
“Veranderinge in die voedselsektor, krag, vervoer, nywerheid, geboue en grondgebruik kan die vrystelling van kweekhuisgasse verminder. Terselfdertyd kan dié veranderinge dit vir mense makliker maak om lae-koolstofleefstyle te volg wat hul gesondheid en welstand sal bevorder. Beter begrip van die gevolge van oorbenutting kan mense help om meer ingeligte keuses te maak.
“Veranderinge sal waarskynlik suksesvoller wees as daar vertroue in hulle is, mense saamwerk om risikovermindering te prioritiseer sodat voordele en nadele regverdig gedeel word.”
Wat moet Afrika doen?
Dr. Christopher Trisos, ook een van die verslag se skrywers, sê terwyl dit baie moeilik of selfs onmoontlik is om die impak van klimaatsverandering te verminder, kan die nadelige impak daarvan beperk word deur die vrystelling van kweekhuisgasse in Afrika te verminder of vermy.
“Ons kan spesies ook help om by klimaatsverandering aan te pas deur bewaringsgebiede te verbind sodat spesies kan beweeg om by klimaatsverandering aan te pas. In die oseane beweeg tropiese spesies weg van die ewenaar na meer subtropiese gebiede omdat tropiese oseane te warm vir hulle geword het.
“Wat spesies soos muskiete wat siektes versprei betref, moet ons gesondheidstelsels aangepas word om die beweging van spesies wat na nuwe gebiede beweeg, in ag te neem deur byvoorbeeld voorsorgmaatreëls beskikbaar te stel.”
Trisos lig uit dat die doeltreffendheid van die beskikbare opsies om by klimaatsverandering aan te pas verminder namate aardverwarming toeneem. “Dit is hoekom ons spoedige mitigasie en vinniger aanpassingsaksies tegelykertyd moet bewerkstellig.”
Die doeltreffendheid van laasgenoemde verminder egter ook namate aardverwarming toeneem. Die bewaring en herstel van woude om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder word byvoorbeeld minder doeltreffend weens hitte, droogte en brande. Ekostelsels het die potensiaal om aardverwarming te beperk, maar het ook beperkings.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.