
Nog ’n koue front wat ligte sneeu oor die suidoostelike en suidelike dele van Suid-Afrika kan veroorsaak, gaan volgens voorspellings die komende naweek oor die land beweeg, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Uitermatige weerstoestande het sedert die einde van verlede week oor groot dele van Suid-Afrika voorgekom, met wind van meer as 60 km/h wat oor veral die sentrale en suidoostelike dele van die land gewaai het voordat die naweek se koue front oor die land beweeg het. Dié toestande het gelei tot die voorkoms van verskeie veldbrande, onder meer in die Oos-Kaap. Swaar sneeu het oor die meeste bergreekse in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, asook gedeeltes van KwaZulu-Natal en Lesotho voorgekom.
Swaar reën is in die Wes-Kaap gemeet by Villiersdorp (83 mm), die Paarl (60 mm) en Hermanus (55 mm). Ligte reën het op 27 en 28 Augustus so ver noord soos Vioolsdrift (2 mm) langs die Weskus voorgekom, terwyl reën ook by Garies (sowat 10 mm) en Nieuwoudtville (13 mm) geval het. Ligte reën het oor die sentrale dele van die land voorgekom met onder meer Lichtenburg in Noordwes wat 9 mm gemeet het.
Kommer oor koue se impak
Die lae temperature wat tans voorkom, kan skade veroorsaak aan vrugte- en neutbome, asook druiwe en wintergrane. “Met die koue winter tot op hede is groei en ontwikkeling vertraag en dit het veroorsaak dat minder skade tot nou toe voorgekom het. Verdere koue in September kan egter baie groot skade veroorsaak,” sê Van den Berg.
Volgens weerrekord het ’n neiging oor die afgelope vyf jaar ontwikkel waarvolgens koue toestande nog baie laat in die seisoen voorgekom het.
Intensiteit van komende koue fronte?
Van den Berg sê die groot vraag is wat – gegewe die intensiteit van die afgelope naweek se koue en die neiging van koue toestande laat in die seisoen die afgelope paar jaar – die moontlikheid van verdere koue toestande en ryp in die volgende weke is? “Dit lyk asof frontale stelsels steeds die land gereeld gaan beÏnvloed vir ten minste die volgende maand tot einde September of selfs nog later.”
Geografies dui voorspellings egter aan dat die koue toestande al hoe meer suid- en suidooswaarts gaan begin voorkom en minder oor die sentrale tot noordelike dele van die land.
Korttermynvoorspellings dui aan dat verdere minder intense koue fronte van 2 tot 7 September, 16 tot 19 September en in die laaste week van September gaan voorkom. “Dit is veral vanaf 5 tot 7 September waar temperature weer skerp kan daal tot naby vriespunt oor die suidelike sentrale tot suidelike dele van die land.”
Wat reën betref, kan die grootste deel van die winterreëngebied van 3 tot 6 September weer redelike goeie neerslae van tot 20 mm verwag. Meer as 10 mm is ook moontlik oor die Oos-Kaap, wat noordweswaarts gaan uitbrei na die suidelike dele van die Vrystaat, aangrensende oostelike dele van die Noord-Kaap en dan ook na KwaZulu-Natal en Lesotho.
“Dit begin ’n neiging word dat ligte reën voor die frontale stelsel oor die sentrale tot noordwestelike binneland voorkom,” sê Van den Berg. “Die kans vir noemenswaardige reën oor die binneland is egter nog nie goed nie. Die meeste reën word oor die kusgebiede en noordelike dele van die Oos-Kaap verwag. Dit lyk egter asof die reën verder noord gaan val en nie die baie droë sentrale tot suidelike dele van die Oos-Kaap gaan bereik nie.”
Ligte sneeu kan van 3 tot 6 September op die hoërgeleë suidelike en veral suidoostelike gedeeltes van Suid-Afrika voorkom, terwyl maksimum temperature van 30 °C en hoër moontlik is oor die noordelike dele van Limpopo en die Laeveld.
Waarskuwings
Van den Berg waarsku dat verdere ryp en koue die naweek oor die Noord-Kaap, die sentrale tot suidelike dele van die Vrystaat, die aangrensende dele van die suidelike en oostelike Drakensberg en die suidelike binneland van die Noord-Kaap kan voorkom.
“Koue en nat toestande word van 6 tot 10 September oor die noordelike dele van die Oos-Kaap verwag. Veeboere in hierdie gebied moet toesien dat kaalgeskeerde skape en bokke, asook kleinvee met klein lammertjies voldoende beskut is teen die koue, nat en winderige weer.”
Die gevaar vir veldbrande gaan in die komende weke hoog bly, veral weens sterk winde wat voor koue fronte oor die land kan beweeg.