
Die weerdiens versoek die
publiek om vir hitte-uitputting en ander hitteverwante siektetoestande
versigtig te wees. Verlede week is vyf plaaswerkers van Kakamas in die
Noord-Kaap weens hitte-uitputting oorlede, terwyl twee nog in die hospitaal
behandel word.
Baie warm tot uiters warm temperature duur volgens die weerdiens ook in die Noord-Kaap voort met los buie en donderbuie in die verre oostelike gedeeltes van die provinsie. ’n Matige tot vars suid tot suidoostelike wind kan langs die kus verwag word.
Die weerdiens waarsku ook dat die moontlikheid van veldbrande uiters hoog is in die Kai !Garib-munisipaliteit en die noordelike gedeeltes van die Noord-Kaap, asook die Kagisano-Molopo-munisipaliteit in Noordwes.
Verder word gedeeltelik bewolkte en warm toestande vir Noordwes voorspel met baie warm toestande in Mpumalanga.
Warm tot baie warm toestande word vir Limpopo verspel. Volgens die weerdiens kan los buie en donderbuie teen vanaand in die Limpopo-vallei en Laeveld verwag word.
Gedeeltelik bewolkte en warm tot baie warm toestande met los buie en donderbuie word vir die Vrystaat, behalwe die verre ooste van die provinsie, voorspel.
In die Wes-Kaap word gedeeltelike bewolkte toestande langs die kusgebied en in ooste van die provinsie verwag met los buie en donderbuie.
Langs die kus sal in die oggend ’n matige oostelike tot noordoostelike wind waai. Teen vanmiddag sal die wind volgens die weerdiens ’n matige westelike tot suidwestelike wind word.
Motreën word vanoggend oor die suidwestelike gedeeltes van die Oos-Kaap verwag met gedeeltelik bewolkte en uiters warm toestande met los buie en donderbuie langs die kus en in die oostelike gedeeltes van die provinsie.
Die wind langs die kus sal ’n matige noordeestelike wind wees tot vanmiddag wanneer dit na verwagting sterker sal word.
Los buie en donderbuie word ook in die verre suide van KwaZulu-Natal verwag met ’n matige tot sterk noordoostelike wind.
* Hoe lyk die weer in jou provinsie vandag? Stuur jou weerfoto’s na nuus@landbou.com.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.