Twee boere in die distrik Utrecht in KwaZulu-Natal is emosioneel en finansieel platgeslaan nadat na raming 300 van hul skape die afgelope naweek weggespoel of versuip het. Hul medeboere en ander besorgde individue, van naby en ver, trek saam om hulle te help, onder meer met die skenking van vervangingsteelooie.
Mnr. Inus Davel, ’n boer van die omgewing, sê swaar reën van meer as 100 mm het die nag van Vrydag 4 Februarie daar geval. Die plaaslike Dorp- en Sandspruit het albei vinnig begin oorstroom stroom-op en -af van waar hulle saamvloei.
Davel sê die eiendomme van twee skaapboere, mnre. Willem Robbertze en Gerhard Potgieter, op die spruitoewers is deur vloede getref.