Mnr. Cornél Landman, ’n lusernboer wat weens die lang droogte gedwing is om ook ’n bees-en-skaapvoerkraal te begin het, het vanaf Donderdagmiddag tot Saterdagoggend 17 Desember 52 mm by die voerkraal sowat 4 km buite die dorp gemeet.
Op sy beproeiingsplaas teen die Swartberg sowat 40 km buite die dorp het hy sedert Woensdagmiddag ’n baie welkom 65 mm gemeet. Op albei plase het hy geen groot skade weens die reën gehad nie.
“Dit is sedert 2016 verskriklik droog hier by ons. Dit is nou die eerste keer dat dit meer as 15 mm reën op ’n slag reën. Ons is baie, baie dankbaar,” het Landman gister (18 Desember) gesê.
Boere in die omgewing besproei uit die Kamanassie- en Stompdrifdam, wat die afgelope ses jaar baie min water gekry het. Boere het net ’n tiende van ’n leibeurt uit die Stompdrifdam gekry. “Niemand kan regtig daarmee ’n bestaan maak nie.”
Dit het Landman in 2018 laat besluit om nie meer lammers en speenkalwers te bemark nie, maar ’n voerkraal te begin waar hy hulle self kan afrond. Die vleis word verwerk by sy Karoo Lusern Slaghuis en die ekstra vee bemark. In November het hy die rekordboeke herskryf met sy jaarlikse slagveeveiling.
“Ons kry gewoonlik ons reën in die somer, van Oktober tot Februarie. Gewoonlik is dit donderbuie en harde reën wat na ons damme loop, maar die afgelope ses jaar het ons in die somer net sowat ’n derde van ons normale reën gekry en in die winter het dit baie min gesneeu. Die sneeu voed die ondergrondse watertafel sodat boere in die winter en somer boorgate kan benut.”
Toe hy sy lusernbesigheid in 2012 begin het, was die damme vol. Hy kon in die omgewing lusern koop vir verwerking in korrels en lusernmeel. Sedert 2016 moes hy lusern van ander gebiede inkoop om sy werkers te kon behou.
“Laasjaar het ons bietjie reën gekry, maar nie soos in vroeëre normale jare nie. Verlede week het die somerreën egter reg begin. Ons boere bly op ons knieë.”
Landman sê dit het Donderdagmiddag omstreeks 15:00 by sy voerkraal begin reën, eers aan en af, lekker harde buie, tot Vrydagoggend, toe sy reënmeter op 30 mm gestaan het. Vrydag het dit die hele dag lank lekker sag gereën en het hy altesame 22 mm uit sy reënmeter gegooi.
Die Stompdriftdam se water kom met die Olifantsrivier wat gevoed word deur die Trakarivier uit die Vondeling-omgewing in die Karoo, waar dit ook gereën het. “Die Stompdrifdam se vlak het van onder 6% tot 26,8% teen gistermiddag gestyg. Dit is al klaar genoeg water om vir al die boere van onder De Rust tot teen Warmbad ’n klein leibeurt in die nuwe jaar te gee. Daar is daarom ’n bietjie hoop vir 2023.”
Landman sê sy pa, mnr. Hennie Landman, sê altyd: “ ’n Droogte word net deur ’n vloed gebreek.” Sóveel reën het nog nie geval nie.
Vir die Kamanassiedam om water te kry, moet dit in die Langkloof reën. Die onlangse reën het nie gehelp om dié dam se watervlak te verhoog nie. Die totale ingelyste water van die Stompdrift-en-Kamanassie-besproeiingskema is 13 460 ha, waarvan 1 380 ha uit die Kamanassiedam kom, sowat 2 640 ha uit die Stompdriftdam en 9 500 ha uit albei damme.