
Talle somergraanboere bevind hulself tans tussen die oseaan en die Egiptenare. Kunsmispryse en insetkoste is hemelhoog, wat fyn beplanning verg en boere word aangemoedig om hul insette betyds vooruit te koop.
Die keersy is dat watervlakke weens verlede jaar se goeie reën reeds hoog was en toe val ongekende hoeveelhede reën, wat veroorsaak dat talle boere nie in hul landerye kan kom nie. Met planttyd wat in die oostelike produksiestreke begin uitloop, bestaan die kans dat baie boere nie betyds hul beoogde gewasse gaan kan plant nie.
“Dit help tog nie jy trek kontant by die bank en steek dit aan die brand nie,” verduidelik mnr. DJ van der Linde, ’n boer van die distrik Vierfontein, die situasie. “Dit help nie jy plant byvoorbeeld mielies buite die seisoen en verloor baie geld omdat jou opbrengste nie kan realiseer nie of omdat jy koueskade ly wanneer die winter begin nie.”
Van der Linde sê, soos verlede jaar, is daar landerye wat hy besluit het om vanjaar nie te beplant nie aangesien die landerye nie optimale opbrengste kan lewer nie. Hy weet van ander boere in die distrik wat ook van plan is om sommige landerye vanjaar oor te slaan.
Sukkel-sukkel planttyd
“Van my bure besit drie goeie planters wat tot 150 ha per dag kan plant, maar weens die goeie reën tot dusver die seisoen kry hulle op plekke net 20 ha per dag geplant,” vertel Van der Linde. “Ander boere in die distrik wat vroeër al geplant het, vertel my na die neerslae begin van hulle saad reeds onder die grond vrot. Ons hou maar asem op oor die seisoen.”
Van der Linde se raad aan boere wat reeds insette gekoop het en vir wie planttyd dalk gaan uitloop, is om met hulle finansiers te praat om reëlings te tref om hul betalings met ’n seisoen uit te stel. “Maar, hier by ons is daar byvoorbeeld nog ’n maand tyd vir optimale planttyd, dinge kan nog anders uitwerk.”
Van der Linde het in Oktober en tot dusver vir November per maand van 30 mm tot 40 mm meer reën gemeet as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. In Desember 2021 het hy 234 mm gemeet. Met bogemiddelde reënval wat vir Desember voorspel word, kan hy moontlik dan ook meer reën meet.
Uitsonderlike begin van die seisoen
Mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA wat in die distrik Sannieshof boer, sê: “In my loopaan van 39 jaar het ek nog nie so ’n nat begin van die seisoen beleef nie. Die Hartsrivier hier het al sy walle begin oorstroom.”
Mathews het in Oktober 2021 68 mm gemeet, en vir Oktober vanjaar was dit 66 mm. “Vir November tot dusver het ons al 123 mm gemeet. Dis omtrent die totale hoeveelheid reën wat ons vir die hele November verlede jaar gemeet het.
“Ons het darem al ’n gedeelte van ons gewasse klaar geplant. Opkoms is wel ’n probleem. Ons hoop om dié week in die lande te kom om die grond wat vasgereën het, bietjie los te kan maak.”
Mathews sê hoewel daar baie probleme is, ook met die toestande van die paaie wat weens die reën vinnig versleg, bly hulle optimisties dat dit ’n goeie seisoen kan wees “wat gaan uitwerk soos hy moet.”
1938
Mnr. Willie Nel van die private reservaat Moolmanshoek in die distrik Ficksburg in die Oos-Vrystaat, sê vir Oktober en die eerste twee weke van November het hulle die meeste reën nóg op dié plaas gemeet sedert 1938. “Vir Oktober het ons die derde meeste reën vir dié maand sedert 1938 gemeet.”
Vir Oktober en November vanjaar het hulle 320 mm aangeteken. Vorige metings wat naby aan dié gekom het, was 317 mm in 2007 en 306 mm in 1996. “Dis nou behoorlik nat hier by ons,” skerts Nel.
Versuipkolle dalk groter
Op sy beurt sê mnr. Danie Bester, van die plaas Rietbult in die distrik Balfour, vir November se eerste twee weke het hy reeds 144,6 mm gemeet, wat net mooi dubbel sy gemiddelde reënval vir November is.
“Ek is nogal bekommerd dat die versuipkolle (onder die gewasse) van verlede jaar net groter kan word.”
Bester het verlede somer ’n uitsonderlike seisoen beleef met sowat 1 500 mm vir die hele seisoen.
“Die watertafel is ongelooflik vol. As daar reën val, loop dit vinnig af. As ons die jaar weer van 40 mm tot 50 mm per week gaan kry, gaan dinge ongemaklik raak.”
Bester het vanjaar wel besluit om sowat 10 dae vroeër as normaal te begin plant en hy is baie dankbaar dat sy gewasse reeds begin opkom het en sterker plante is wat die reën tot ’n mate beter kan weerstaan.
Volgens Silostrat se syfers beleef ander dele ook goeie neerslae, met neerslae vir die eerste twee weke van November by sy depots in Mpumalanga, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap wat wissel van 59 mm by Delpa in die distrik Douglas tot 285 mm by die depot De Milander by Bethlehem.