
Die familie van Inyati Ranch, met mnr. Quintin Coetzee aan stuur, is oorspronklik van Suid-Afrika en het hulself in 2019 in Sentraal-Mosambiek naby Inhambe gevestig. Die familie bestuur ’n Bonsmara-stoetery met die oogmerk om uiteindelik gehalteteelmateriaal aan Mosambiekse boere te verskaf.
In sy bloginskrywing oor sikloon Freddy (Klik hier om die blog te besoek.) skryf Quintin se oudste seun, Jadon, dat hulle aanvanklik, toe Freddy Mosambiek die eerste keer bereik het, lank gewag voor die sikloon hul plaas getref het. Hulle was toe wind van 150 km/h en 300 mm reën te wagte.
Twee dae nadat die sikloon oor Mosambiek begin beweeg het, het die hemele eers oopgegaan. Hulle het 465 mm in 24 uur gemeet. Hulle het in totaal 670 mm gemeet danksy die sikloon.
Jadon
het aan Landbouweekblad gesê die reën het ’n groot impak op die boerdery
se werksaamhede gehad.
“Drade het weggespoel en die beeste was oor 13 000 ha versprei. Dit is nou in die middel van ons teelseisoen. Omdat ons stoettelers is, is dit nie iets wat moet gebeur nie. Ons het ons gehaas om seker te maak dat die bulle nie die verkeerde koeie dek nie.”
Dié taak was egter baie moeilik aangesien toegang tot hul kampe bykans onmoontlik was omdat die meeste paaie in groot panne water verander het en hulle alles te voet moes doen, met die dik bos wat dit baie moeilik gemaak het.
Siektes
en plae
Omdat hart- en rooiwater in die area voorkom, is bosluisbekamping noodsaaklik. Die beeste word weekliks bymekaar gemaak en gedip.
“Gewoonlik kom die beeste na die kraal vir water, maar met die veld vol waterpanne was dit baie moeisaam om hulle bymekaar te maak. Ons is egter dankbaar dat ons beeste so goed aangepas het, anders het ons dalk groot verliese gely.”
Weens die vloede was slange meer aktief en aggressief. ’n Swart mamba het een koei gebyt en ’n luislang het ’n kalf doodgemaak.
Die vloed het ook hulle bure swaar getref, met van die bure se beeste wat na die Inyati Ranch gevlug het. Omdat die water so diep was, het van hul kalwers versuip.
“Ons woon in ’n afgeleë area. Die verwoesting strek daarom verder as net ons boerdery. Ons is deel van ’n plaaslike gemeenskap en hul verliese is ons verliese. Ons is swaar geraak deur die verwoesting met ons en die gemeenskap se huise wat oorstroom het. Hul gewasse, wat hul lewensbestaan is, het alles weggespoel.”
Sikloon Freddy is sover bekend die tropiese sikloon met die langste lewensduur, wat oor meer as vyf weke gestrek het. Die sikloon het op 6 Februarie ontstaan in die Indiese Oseaan tussen Indonesië en Australië. Die sikloon het volgens Nasa vir die eerste keer op 21 Februarie landoppervlak in Madagaskar bereik as ’n kategorie 3-sikloon. Freddy het nadat hy oor land verswak het, weens warm seetemperature weer versterk om vir ’n tweede maal landoppervlak te bereik aan die Mosambiekse kus. Die storm het ’n voetspoor van skade gelaat. Meer as 50 000 mense in Mosambiek en 88 000 in Malawi is haweloos gelaat en groot lewensverlies is gely.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.