
Die sneeu wat onlangs weens twee intense koue fronte oor Citrusdal en ander gedeeltes van die Wes-Kaap uitgesak het, sal nie die sitrusbedryf benadeel nie, sê mnr. Piet Smit, sitrusboer van Citrusdal en bemarkingsdirekteur by Favourite Fresh Export.
Smit het ’n video geneem van sneeu wat lemoenbome met valencia-lemoene bedek. Hy sê aangesien die lemoene nie vir lang periodes aan temperature onder vriespunt blootgestel is nie en dié lemoene eers in November geoes word, sal daar geen skade aan die gehalte van die lemoene wees nie.
Hoewel die sneeu nie vanjaar se rekordoes sal beïnvloed nie, meen hy dat dit weens die onluste in KwaZulu-Natal en die kuberaanvaal op Transnet se hawens ’n moeilike seisoen ten opsigte van logistiek was aangesien die oes, pak, vervoer en verskeping van produkte by tye tot stilstand gekom het. Tans sukkel hawens wêreldwyd om opeenhopings uit die weg te ruim.
Hy sê die georganiseerde aard van die bedryf en veral die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV) se vermoë om oplossings te kry vir die probleme wat die bedryf die afgelope tyd in die gesig gestaar het, het dit in staat gestel om met sy bedrywighede voort te gaan.
Mnr. Stiaan Engelbrecht, besturende direkteur by Everseason, sê dat die bedryf deur spanwerk daarin geslaag het om verskeie struikelblokke te oorkom.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van SASKV, sê in die vereniging se nuutste weeklikse nuusbrief sterk wind in die omgewing van Durban verhinder tans dat vragte deur Durbanhawe kan beweeg. Die tydsberekening hiervan kon volgens hom nie slegter gewees het nie, aangesien daar steeds probeer word om agterstande by die hawe weg te werk.
Ten spyte van logistieke probleme en gure weer is 80% van die seisoen se verwagte uitvoer gepak en goedgekeur vir uitvoer. Sover vanjaar is 125,5 miljoen kartonhouers sitrus verpak, waarvan 103,7 miljoen kartonhouers verskeep is.