
Skaaplammers se bene is gebreek, die veld is “platgeslaan” en plafonne het ingeval van die massa ys op dakke.
Die haelkorrels was besonder groot.
Mnr. Ulrich Lombard van die plaas Dreghorn noord van Ashkam, op die grens met Botswana, sê hael is skaars waar hy boer.
“Ek is al lank in die Kalahari en dis die eerste keer dat ek dit sien . . . lammers waarvan die bene gebreek is deur hael en die gras en bome is kaal afgeslaan.
“Die gras behoort binne ’n week weer uit te loop. Daar is gelukkig ’n klomp vog in die grond.”
Hulle het 36 mm reën saam met die hael gekry. Dit was hul eerste ordentlike reën die somer. Voor dit was dit 5 mm tot 15 mm en 10 mm.
Ander boere in die Kalahari het tot 100 mm gehad.
Lombard merk op terwyl dit by hom gehael het, het ’n groot brand in ander dele van die Kalahari gewoed.
Lombard boer met Dorpers, Bonsmaras en wild.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.