Die distrik Merweville, wat grens aan die Moordenaarskaroo, gaan al die afgelope nege jaar onder erge droogte gebuk. In sommige van dié jare het slegs enkelgetal millimeters reën geval.
Mnr. André Theron, boer van die plaas Kranskraal teen die Steenkampsrivier, sê hoewel hul reëntyd gedurende die somer is, het hulle nog nie wyd goeie neerslae dié somer gehad nie. “Daar was al op een van die plase in die distrik sowat 50 mm met een reënbui.”
Die patroon van wisselvallige reënval was vandeesweek weer duidelik toe ’n wolkbreuk swaar neerslae op sowat vyf plase laat uitsak het. “Die neerslae in die distrik wissel van niks tot 120 mm, 151 mm en meer as 151 mm op een plaas,” vertel Theron. "As jy na die video kyk kan jy sien dit was 'n dans van blitse," vertel Theron.
Dié neerslae het wel tot gevolg gehad dat die riviere en spruite in die distrik sterk afgekom het. “Dit het wyd oorstromings veroorsaak. Ons het gerugte gehoor dat die Dwykarivier sterk afgekom en oor die N1 gespoel het. By ons het die Steenkampsrivier afgekom soos ek hom nog nie in my leeftyd sien loop het nie, en die Rosyntjiespruit hier by ons is nou ’n rivier. Bloukop se (rivier)loop is sommer deur die veld,” vertel Theron.
Die oorstromings het redelik skade op plase veroorsaak, met veral drade langs riviere wat weggespoel en paaie wat verspoel het. “Ek self gaan sowat 20 rolle sifdraad moet koop om die kampe op die plaas te herstel. Die skade op ander plase lyk erger. Maar ons is baie bly vir die water. Drade en paaie kan mens altyd weer regmaak.”
En hoe lyk hulle hoop vir nog reën dié seisoen?
“As jy vir ’n boer vra watter jaar is sy beste jaar, gaan hy altyd hoop dit sal beter gaan volgende jaar,” skerts Theron.
Die distrik se goeie reëntyd is gewoonlik Maart, hoewel hulle die afgelope agt jaar nie altyd goeie reën in dié tyd gehad het nie. “Die tekens lyk wel goed vanjaar. Paasnaweek is ons afsnytyd vir reën, dan begin die Kaap sy winterreën kry.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.