
Die effek van die La Niña, wat vanjaar reeds milde reën verskaf het, kan aanhou tot in April of Mei en selfs somerreën oor die Wes-Kaap laat voorkom, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
In die vorige somerseisoen (2020-’21) het die La Niña-verskynsel al teen middel Desember 2020 begin verswak en oorgegaan na neutrale toestande in Februarie 2021. Dit het beteken die sogenaamde Niño-gebiede se oppervlaktemperature het teruggetrek tot binne die band van 0,5 °C warmer tot 0,5 °C koeler as normaal, verduidelik Van den Berg.
In die afgelope twee maande het die La Niña-verskynsel tydelik verswak tot in die eerste week van Februarie, maar dit het ’n oplewing getoon sedert ongeveer middel Februarie.
“Daarmee saam bly die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI), wat die sterkte van die koppeling van oppervlaktoestande in die sentrale dele van die Stille Oseaan met oorliggende klimaatstelsels aandui, ook steeds positief of La Niña-neigend.”
In die vorige seisoen het die SOI baie vinnig begin daal vanaf einde Februarie 2021 weens die verandering in see-oppervlaktemperature. Een van die tekens dat die huidige La Niña-verskynsel steeds ’n impak op die weer het, is die voortdurende swaar reën aan die Ooskus van Australië en ook oor die noordelike gedeeltes rondom Darwin vanaf die laaste week van Februarie.
Tropiese storms neem die wyk
Reënvaltoestande is gewoonlik bogemiddeld in die tweede deel van die somerseisoen oor die sentrale tot westelike dele van Suid-Afrika, asook Namibië en Botswana. Hoewel daar vanjaar tydelik ’n droër tydperk in Februarie voorgekom het, was dit hoofsaaklik vanweë die reeks tropiese siklone in die westelike deel van die Indiese Oseaan, verduidelik Van den Berg.
Die laaste sikloon, Gombe, wat in die eerste week van Maart voorgekom het, het baie verswak en homself uitgewoed oor die kusgebiede van Mosambiek sónder om in die Mosambiekkanaal suidwaarts en suidooswaarts te beweeg. “Dit het veroorsaak dat tropiese vog oor Namibië suid- en suidooswaarts kon beweeg en redelike swaar reën het sedert begin Maart oor groot dele van Suid-Afrika voorgekom.”
Hoewel daar steeds enkele swakkerige tropiese storms tot ongeveer einde Maart in die Indiese Oseaan kan voorkom, is die tropiese sikloonseisoen byna verby. Dit kan veroorsaak dat die huidige La Niña se uitwerking tot in April of selfs Mei kan voortduur, waarna dit na neutrale toestande kan oorgaan. Daar is ook ’n skraal moontlikheid dat die La Niña kan voortduur deur die winter, maar dit sal uitsonderlik wees.
Nog ’n interessante verskynsel om dop te hou, is dat die winters wat op La Niña-seisoene volg, in die algemeen droër as gewoonlik oor die noordelike dele van Suid-Afrika is. Daarteenoor kry die suidelike dele van die land dikwels gemiddelde tot bogemiddelde reënval, volgens Van den Berg.
Opsommend beskou, lyk die vooruitsigte só:
• Gemiddelde tot bogemiddelde reënval tot in Mei oor die grootste deel van die somerreëngebied, maar veral oor die sentrale tot westelike binneland.
• Baie min of geen reën vir die tydperk vanaf Julie tot ongeveer Oktober of November oor die sentrale tot noordelike dele van Suid-Afrika en verder noordwaarts oor Namibië, Angola, Botswana en Zimbabwe.
• Wat die suidelike helfte van Suid-Afrika betref, insluitend die grootste deel van die Oos-Kaap, suidelike dele van die Noord-Kaap en die grootste deel van die Wes-Kaap, behoort daar gemiddelde tot effens bogemiddelde reënval voor te kom vir die winter tot ongeveer September of Oktober.