Vloedtoestande in Suid-Afrika is nie buitengewoon tydens somers waarin La Niña-stelsels voorkom nie. Hoewel vloedtoestande buite La Niña-seisoen nie ongewoon is nie, is die omvang gewoonlik nie so groot nie, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Hy het Suid-Afrika se geskiedenis van vloedjare van naderby bekyk. Sedert 1970 is altesaam 12 (uitgesluit die huidige seisoen) matige tot sterk La Niña-seisoene aangeteken. “Daar was ook ’n klomp swakkerige La Niña-seisoene waar reënval nie noodwendig tot vloede gelei het nie, maar indien ’n swakkerige La Niña-seisoen deel gevorm het van ’n meerjarige reeks van La Niña-seisoene, het dit bygedra tot vloedtoestande soos in wat in die seisoen van 1974-’75 voorgekom het.”
Soos wat vanjaar die geval is, word die vloedrisiko tydens La Niña-seisoene ook bepaal deur wat in die voorafgaande seisoene gebeur het. “Gewoonlik kom vloedtoestande voor wanneer meer as een La Niña-seisoen ná mekaar voorkom, soos vanaf 1973-’74 tot 1975-’76 en 2010-’11 tot 2011-’12. Die 1988-’89-vloed het egter voorgekom ná ’n baie droë periode vanaf 1982 tot 1987, waarna ’n vinnige ommeswaai na La Niña begin voorkom het in die tweede deel van dié somerseisoen.”