
Die La Niña-stelsel wat die somerreënseisoen oorheers het, kan ook goeie nuus wees vir die winterreënstreek. Op medium- tot langer termyn kan die stelsel verantwoordelik wees vir gemiddelde tot bogemiddelde reën oor die somerreëngebied in April en selfs Mei, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Wat die winterreëngebied betref, kan die stelsel lank genoeg voortduur om ’n gunstige uitwerking op veral die tydperk van Mei tot September oor die winterreënstreek uit te oefen. In die meeste La Niña-seisoene in die verlede het die grootste deel van die Wes-Kaap gemiddelde tot bogemiddelde reënval gekry.
“Ceres in die Suidwes-Kaap het gemiddelde tot bogemiddelde reënval gekry van Mei tot September in die meeste La Niña-seisoene, soos vanaf 1974 tot 1976 toe daar 637 mm voorgekom het van Mei tot September; in 1975 was dit 351 mm; in 1976 was dit 379 mm; in 1988 was dit 303 mm; in 1989 was dit 455 mm; in 1998 was dit 574 mm; in 1999 was dit 443 mm; in 2010 was dit 445 mm en in 2011 was dit 476 mm.
“Hoewel daar ’n bietjie minder reën oor die Suid-Kaap gedurende hierdie La Niña-seisoene voorgekom het, was dit steeds bogemiddelde reënval met ’n baie goeie verspreiding gedurende die winterseisoen.”
Kans op vroeë ryp skraal
Van den Berg sê daar is die afgelope dekade of langer ’n neiging dat die winter later begin en dan langer aanhou tot in die lente en selfs vroegsomer. Die laat somerreën wat die huidige La Niña-stelsel kan veroorsaak, kan bydra tot ’n later begin van die winter.
Die vogtige toestande kan veroorsaak dat temperature nie so laag gaan daal in die herfs en vroegwinter nie, wat dus die kans op swaar ryp voor die einde van April skraal maak.
Vroeë ryp hou wel ’n risiko in vir somergrane, veral sonneblomme, wat laat in Januarie geplant is. Talle boere kon weens die swaar reën in Januarie nie in hul landerye kom nie, en derhalwe is veral sonneblom laat geplant.
Die eerste swaar ryp gaan na verwagting eers teen middel Mei voorkom.