
Al hoe meer berigte van reënskade in die somersaaigebied word ontvang en die risiko is nog nie verby nie, want La Niña-toestande kan tot Maart of April aanhou. Dít beteken daar kan nog heelwat meer reën val, veral oor die sentrale en westelike dele, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Die afgelope maand se swaar reën kan beskou word as die eerste spits, maar wanneer die werklike reënseisoen oor die sentrale tot westelike dele vanaf die tweede deel van Januarie begin, kan ’n tweede spits bereik word rondom Februarie wanneer vloede moontlik is.”
Gewoonlik is die derde spits rondom Mei oor die sentrale tot westelike binneland minder intens, maar steeds intens genoeg om probleme te skep met die oes van sojabone, grondbone en sonneblom, waarsku Van den Berg.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal nat toestande na verwagting voortduur oor die somerreëngebied en hy voorspel bogemiddelde reën vir die volgende paar maande. Dit kom kort op die hakke van een van die natste Desembermaande op rekord met baie plekke waar die jaarlikse gemiddelde reënval in Desember alleen voorgekom het.
Kolle in distrikte soos Bultfontein en Wesselsbron in die Vrystaat het meer as 400 mm in Desember gekry. Bothaville het 203 mm vir Desember gemeet en vir die seisoen vanaf 1 Julie 2021 byna 400 mm, Fouriesburg in die Oos-Vrystaat het 300 mm in Desember 2021 gehad en vir die seisoen vanaf 1 Julie 2021 reeds 557 mm. Ook in Noordwes het Mareetsane naby Mahikeng 310 mm vir Desember gehad en reeds byna 500 mm vanaf 1 Julie.
“Wat die baie reën se uitwerking op die landbou vererger, is dat daar byvoorbeeld in Desember 2021 in Mareetsane drie agtereenvolgende weke was waar meer as 80 mm op een dag gemeet is.”
Wees bedag op vloede
Van den Berg sê La Niña veroorsaak tradisioneel bogemiddelde reënval tot byna die einde van die somerseisoen, hoewel dit geografies gewoonlik weswaarts migreer in die tweede deel van die seisoen.
“Dit lyk asof daar nog heelwat reën oor die oostelike dele van Suid-Afrika verwag kan word tot in die eerste deel van Februarie. Van middel Januarie kan dit reeds begin uitbrei na die sentrale dele van Suid-Afrika en later in Januarie na die meer westelike dele.”
In soortgelyke jare in die verlede met ’n La Niña-verskynsel en veral met ’n tweede agtereenvolgende La Niña-verskynsel soos in die mid-1970’s, het daar twee tot drie spitsreënvalperiodes voorgekom wat vloede veroorsaak het. “Daar is steeds ’n vloedrisiko in Januarie en veral Februarie met damvlakke wat baie hoog gaan bly wanneer ’n tweede spits in reënval bereik kan word. Dit is veral die Benede-Oranjerivier, asook die laer Vaalrivier, wat die grootste risiko gaan ervaar.”
Sluise by van die somerreënvalstreek se groot opgaardamme is onlangs oopgemaak om die druk op oorvol damme ná die goeie reën te verlig. Boere wat stroomaf van damme soos die Gariepdam en die Vaaldam boer, moet hul landboutoerusting van die rivieroewers verwyder, het mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, gesê.