
Boere wat vroeër die seisoen asem opgehou het oor hul lande so nat was dat hulle dit nie kon waag om in die lande in te kom nie, ry nou om hul landerye en moedig hul plante aan om vas te byt tot die volgende reën kom.
Ná ’n relatiewe koeler somer oor groot dele van die somergraanstreek het temperature die afgelope twee weke aansienlik gestyg, met plek-plek effe droogteskade wat voorkom. “Die hoë temperature gaan tot die naweek voorkom, met ligte reën wat kan effense afkoeling kan bring rondom 21 Januarie,” voorspel mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Wat verdere goeie neerslae vir die res van die maand betref, kan ’n trog laagdruk in die laaste week van Januarie oor Namibië en Botswana ontwikkel, wat suidwaarts kan beweeg en reën bring vir dele van die Noord-Kaap, die Vrystaat en meer ooswaarts. Van den Berg sê dié stelsel kan wel beïnvloed word deur die moontlike ontwikkeling van ’n tropiese laagdrukstelsel oor Madagaskar wat vog weg van Suid-Afrika kan voer.
Gevaarligte vir Februarie, Maart
Intussen sê Van den Berg die midsomerdroogtes wat tans ervaar word, het baie lanklaas gebeur. “Gewoonlik is dit baie tipies dat La Niña-verskynsels nat en koeler toestande veroorsaak gedurende die midsomer. Tydens die sterk El Niño-stelsel van die van 2015-’16-seisoen was dit laas so warm in die eerste helfte van Januarie soos vanjaar.”
Vir ’n plek soos Prieska in die Noord-Kaap was die gemiddelde maksimum temperature in die eerste helfte van Januarie 2016 gemiddeld 38,2 °C. Vir die periode vanaf 1 tot 15 Januarie 2023 was die gemiddelde maksimum temperatuur vir Prieska 36,1 °C. Vir dieselfde periode in 2022 was die gemiddelde maksimum temperatuur 32,7 °C, byna 4 °C koeler as in 2023. Tydens die eerste La Niña-stelsel in die huidige reeks van drie La Niña-stelsels, in 2021, was die gemiddelde maksimum temperatuur vir die eerste 15 dae van Januarie nog koeler op 30,5 °C.
Tydens die sterk La Niña-stelsel van die 2010-’11-seisoen was dit 31,9 °C, terwyl in die soortgelyke jaar soos wat vanjaar ervaar word, die 2011-’12-seisoen – toe die La Niña-stelsel begin verswak het – was dit op 37,6 °C, byna dieselfde as tans.
Dit is ’n bewys dat hoewel die huidige La Niña-stelsel steeds teenwoordig is, daar reeds tekens is dat ’n faseverandering plaasvind.
As na die reënvaltoestande van 2012 (’n soortgelyke jaar as vanjaar) gekyk word, was die reën van 1 Januarie tot einde Maart gemiddeld tot ondergemiddeld vir byvoorbeeld ’n plek soos Reitz in die Oos-Vrystaat, wat toe 145 mm gekry het teenoor die langtermyngemiddelde van 298 mm vir die drie maande.
Upington in die Noord-Kaap het tydens die La Niña-seisoene van 2010-’11, 2020-’21 en 2021-’22 bogemiddelde reënval gekry. In die oorgangseisoen, 2011-’12, het ondergemiddelde reënval van Januarie tot Maart voorgekom. In April 2012 het daar egter bogemiddelde reënval voorgekom op Upington.
Die bogenoemde inligting bevestig die huidige neiging dat La Niña-stelsel verswak of ten minste in ’n ander fase in beweeg aangesien hittegolftoestande in Januarie nie tipies is van ’n La Niña-stelsel nie.
“Dit laat gevaarligte aangaan vir ’n gebrek aan reënval vir die belangrike maande van Februarie en Maart. Hoewel daar baie ondergrondse vog is, kan grond oor die algemeen ten beste nie meer as ’n maand of ses weke met min reën klaarkom sonder om droogtestremming te induseer op plante nie, veral nie in die baie warm toestande wat ons tans ervaar nie,” sê Van den Berg.
“Baie grond met ‘n swakker waterhouvermoë of kleigrond wat water stadig vrystel, kan reeds binne dae of enkele weke droogtestremming veroorsaak. Baie grane is ook laat aangeplant en hul kritieke groeifases sal in Februarie en Maart voorkom, wanneer grane in die blom- en pitvulstadiums gaan wees.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.