
Dié versekering het gekom van mnr. Valli Moosa, adjunkvoorsitter van die kommissie, op Agri SA se virtuele kongres.
“Ek meen die landbou is een van die belangrike sektore wat natuurlike hulpbronne en veral klimaatsverandering betref. Daarom gaan ek my beywer om die landbou meer regstreeks by die kommissie betrokke te kry.”
Die kommissie is vroeër vanjaar onder die voorsitterskap van pres. Cyril Ramaphosa op die been gebring om al die vernaamste maatskaplike vennote oor die klimaatskwessie byeen te bring. Die hoofdoelwit is om te verseker dat die ekonomiese pad wat gevolg moet word om by ’n lae vrystelling van skadelike kweekhuisgasse uit te kom, deur die gemeenskap as geheel ondersteun word.
“Dit sal sinneloos wees as die regering met ’n wonderlike strategie na vore kom, maar die sakesektor, arbeid en die gemeenskap ondersteun dit nie. Die kommissie moet verseker dat dit ’n Suid-Afrikaanse strategie is. Ek kan sê daar is reeds ’n groot mate van konsensus oor wat ons doen.”
Moosa het gesê hy is vol vertroue dat die landbousektor in staat sal wees om metodes deur wetenskaplike innovasie te ontwikkel om die vrystelling van skadelike gasse te verminder. Hy het verwys na ’n skrywe van Ramaphosa waarin hy waarsku oor die moontlikheid van handelsversperrings teen uitvoerprodukte en beleggers wat van Suid-Afrika sal wegskram weens die land se afhanklikheid van kragopwekking uit steenkool. Daarom moet daar dringend opgetree word om by ’n laekoolstof-ekonomie uit te kom.
Landbousektor moet self maniere ontwikkel
“Ek meen dit sal die beste wees as die landbousektor self maniere ontwikkel om die vrystelling van skadelik gasse te verminder en internasionaal mededingend te bly. Ons kan nie toelaat dat ’n situasie ontwikkel waar ons avokado-uitvoer onder druk kom omdat ander lande se produsente teen ’n laer koolstofspoor produseer nie.”
Moosa het gewys op Anglo American se mikpunt dat ál sy myne teen 2040 geen skadelike vrystellings sal hê nie, en gesê iets soortgelyks is van die landbousektor nodig. Hy het Agri SA geloof vir sy posisie oor klimaatsverandering.
“Ek stem saam met al die sieninge van Agri SA. Daar is ’n baie duidelike verbintenis dat verandering nodig is en dat daar na die omgewing omgesien moet word.”
Hy het gesê daar word ook gemeld dat dit ingewikkeld is en nie oornag gedoen kan word nie, want daar is ondernemings en werkgelenthede in die gedrang wat nie in die proses vernietig moet word nie. Agri SA het ’n mandaat vir sy standpunte by sy kongresverteenwoordigers gekry.
Me. Nomfindo Tshabalala, direkteur-generaal van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, wat oor die verbintenisse van haar departement met die landbou gepraat het, het verwys na Suid-Afrika se rykdom aan biodiversiteit. Dit is een van haar departement se sleutelfunksies om dit beskerm, en die landbousektor se hulp is ook nodig.
Sy het sê naas Brasilië en Indonesië is Suid-Afrika die land met die grootste biodiversiteit ter wêreld. Dit is die tuiste van 10% van die wêreld se plantspesies, 15% van die wêreld se seespesies en 7% van reptiele en soogdiere.
Prof. David Venter van die Universiteit Stellenbosch se sakeskool het gesê met die wêreld by ’n kantelpunt weens klimaatsverandering, ’n wêreldbevolking wat tot 9,7 miljard gaan toeneem teen 2050 en toenemende verstedeliking sal boere geen ander keuse hê as om radikaal verskillende boerderytegnologieë te ondersoek en te omarm nie.
Hy het verwys na drie tegnologiese revolusies in landbou. Eers was daar die revolusie van landboumasjienerie van omtrent 1900 tot 1930 wat daartoe gelei het dat elke boer sowat 26 mense kon voed. Daarna was daar die genetiese modifikasie- en groenrevolusie teen 1980 wat daartoe gelei het dat elke boer 155 mense kon voed. Nou is dit die digitale revolusie met die eerste presisieboerderye wat in 1997 ontstaan het. Dit het daartoe gelei dat elke boer nou gemiddeld 265 mense voed.