
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag gewaarsku dat ’n afsnylaagdrukstelsel van vandag af wydverspreide buie en moontlik vloede in die sentrale en oostelike gedeeltes van Suid-Afrika kan veroorsaak.
Volgens die weerdiens kan verspreide, swaar donderstorms oor die sentrale en suidelike binneland ontwikkel. Weens die bewolkte toestande wat met die stelsel gepaard gaan, kan koeler temperature oor die grootste gedeelte van Suid-Afrika vanaf vandag verwag word.
Die stelsel sal van Donderdag tot Saterdag na die sentrale binneland beweeg en teen Sondag opklaar.
Die weerdiens het gister ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik oor swaar donderstorms wat plek-plek tot vloede kan lei in die Vrystaat, die ooste en noorde van die Noord-Kaap en Noordwes.
Soortgelyke weer word in Gauteng , die suide en ooste van Limpo, die Hoëveld en platorand van Mpumalanga, die weste en suide van KwaZulu-Natal en sentrale gedeeltes van die Oos-Kaap verwag.
Verder is ’n oranje vlak 5-waarskuwing vir ontwrigtende buie wat tot die verspoeling van brûe, paaie en informele nedersettings kan lei, vir die ooste van die Oos-Kaap en suidweste van KwaZulu-Natal uitgereik.
Bewolkte en koel tot warm weer met wydverspreide buie en donderbuie word vir Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, die Noord- en Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat voorspel.
In Limpopo sal dit bewolk en warm tot baie warm wees met verspreide buie en donderbuie, behalwe vir die suide en ooste waar buie wydverspreid sal voorkom.
Mooi weer word vir die weste van die Wes-Kaap voorspel. Elders in die provinsie kan gedeeltelik bewolkte tot bewolkte en warm tot baie warm weer met oggendreën langs die Tuinroete verwag word.
* Hoe lyk die weer in jou provinsie vandag? Stuur jou weerfoto’s na nuus@landbou.com.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.