
Die sterk laagdrukstelsels die afgelope week het swaar reënval oor verskeie dele van Suid-Afrika veroorsaak, met onder meer 410 mm wat in sowat ’n week by Koffiebaai aan die Oos-Kaap se kus gemeet is.
By Tzaneen is 312 mm gemeet, met 199 mm by Richardsbaai, 158 mm by Graskop en meer as 100 mm by Durban. Talle ander dele van Suid-Afrika het 50 mm en meer gemeet. Dié neerslae het bygedra tot hoë damvlakke en verskeie damme se sluise wat oopgemaak is.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê daar is ’n groot kans dat die Benede-Oranjerivier vloedvlakhoogtes van Woensdag tot in die eerste paar dae van Maart kan bereik.
Sikloon Freddy
Intussen volg die sikloon sy “uitsonderlike pad”, na verwagting op pad na Suider-Afrika die naweek. Die sikloon was Maandag oos van Madagaskar met windsnelhede van 240 km/h.
“Dit is die eerste sikloon sedert 2000 wat al die pad weswaarts vanaf ongeveer Indonesië dwars oor die Indiese Oseaan beweeg het. Die vorige sikloon wat hierdie pad gevolg het, was Eline wat in 2000 byna 11 000 km ver vanaf Indonesië tot in Afrika beweeg het en 29 dae aktief was,” sê Van den Berg.
Eline het baie erge vloede in veral Mosambiek en Zimbabwe veroorsaak, asook baie reën en swaar vloede oor die noordelike dele van Suid-Afrika, met onder meer 500 mm wat binne drie dae gemeet is in die distrik Levubu in Limpopo.
Eline het verswak nadat dit oor land beweeg het, maar het steeds as ’n tropiese laagdrukstelsel oor Botswana tot in Namibië beweeg voordat dit heeltemal verswak het. “Dit het baie hoë riviervlakke op die grense van buurlande met Suid-Afrika veroorsaak. Tot op hede was dit die hoogste vlak wat die Sabie-rivier in baie dele van die Krugerwildtuin bereik het.”
Moontlike roetes van Freddy
Freddy behoort vanaand (Dinsdagnag, 21 Februarie) oor Madagaskar in te beweeg en môre in die Mosambiekkanaal te wees. Teen Vrydag (24 Februarie) gaan dit die vasteland tref met verwagte windsnelhede van ongeveer 100 km/h. Saterdag (25 Februarie) kan dit oorbeweeg tot in Zimbabwe waar dit gaan verswak, maar steeds as ’n sterk tropiese laagdruk gaan voortbestaan.
Tans is daar drie moontlikhede wat daarna kan volg, sê Van den Berg:
- Die waarskynlikste is dat dit gaan uitwoed oor Zimbabwe en Mosambiek en suidwaarts in die Mosambiekkanaal gaan afbeweeg;
- Die tweede moontlikheid is dat dit verder weswaarts tot in die oostelike dele van Botswana kan beweeg; en
- Derdens kan dit suidweswaarts en dan suidwaarts oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika beweeg. Dit kan dan uiters swaar reën veroorsaak in rofweg die gebiede wat in die afgelope twee weke baie swaar reën gehad het met gevolglike verdere vloedtoestande.
“Daar is ’n groot risiko vir swaar reën oor veral die noordoostelike dele van Suid-Afrika, wat insluit die oostelike en noordelike dele van Limpopo, die oostelike dele van Mpumalanga, maar veral ook die noordelike dele van KwaZulu-Natal. Dit is veral vanaf 25 Februarie tot in die eerste week van Maart wat die grootste risiko bestaan vir swaar reën.”
Van den Berg sê die ander gevaargebied is, soos in 2000, die noordelike riviere soos die Olifantsrivier en sytakke, as gevolg van die dreigende gevaar van Freddy. “Die gevaar vir verdere vloede in dié gebiede is in die laaste dag of twee van Februarie, maar veral die eerste week van Maart, met die moontlikheid dat swaar reën kan voorkom in die laaste paar dae van Februarie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.