
Volgens die weerdiens sal ’n
afsny-laagdrukstelsel, wat gister langs die Namibiese kus ontwikkel het, môre
oor die Noord-Kaap beweeg. Laagdrukstelsels gaan gewoonlik gepaard met
wydverspreide onstabiliteit in die atmosfeer wat tot langdurige reënval kan
lei.
Die weerdiens se modelle is steeds besig om die sterkte van die stelsel te bepaal, asook die roete wat dit later in die week sal volg. Sommige modelle dui aan dat die stelsel nie buitensporig sterk is nie.
Volgens die weerdiens kan reënbuie en donderstorms vanaf vandag oor gedeeltes van die Noord-Kaap verwag word met koue dagtemperature en winderige omstandighede wat vanaf Dinsdagaand na die Vrystaat en Noordwes kan versprei.
Onseisoenale, maar nie ongewone reënval van 20 mm en 50 mm binne 24 uur kan volgens die weerdiens oor die volgende twee dae oor gedeeltes van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes verwag word. Die reën sal na verwagting vanaf vandag oor die Noord-Kaap val en teen Dinsdagaand na die Vrystaat en Noordwes versprei. Sterk rukwinde van 50 km/h kan van vandag af in daardie gebiede verwag word.
Hoewel koue dagtemperature verwag word, sal sneeuval volgens die weerdiens Woensdag op die Drakensberge en in Lesotho voorkom en Donderdag na die hooggeleë gedeeltes van die Wes- en Oos-Kaap versprei.