
Die swaar reën wat die afgelope paar weke oor die suidelike dele van die Noord-Kaap, die Wes-Kaap en oor die Langkloof op die grens van die Oos-Kaap voorgekom het, was nie deel van tipiese winterreënpatrone nie.
“Die reën is veroorsaak deur sogenoemde afsny- of afknyplaagdrukstelsels en was nie deel van tipiese winterreënpatrone as deel van koue fronte of somerreënpatrone met grootskaalse tropiese vogbeweging vanuit die intertropiese konvergensiesone rondom die ewenaar nie,” sê Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Hoe vorm ’n laagdrukstelsel?
Die lug in die middelvlakke van die atmosfeer vloei in die algemeen van wes na oos oor Suider-Afrika. Wanneer die vloei van lug versteur word, kan ’n laagdrukstelsel vorm wat ’n trog van laagdruk vorm. Dit ontwikkel gewoonlik oor die sentrale, maar veral die westelike dele van die land en strek van Namibië of Botswana in die noorde en suidwaarts oor Suid-Afrika.
Die gebied van laagdruk vorm tussen die Atlantiese hoogdrukstelsel in die weste en die Indiese hoogdrukstelsel in die ooste. Die langwerpige gebied of trog van laagdruk word soms afgesny van die algemene vloei tussen die hoogdrukstelsel en vorm ’n afsnylaagdruk. Dit is ’n intense stelsel wat ook goed ontwikkel is in die hoër lae van die atmosfeer. Dit veroorsaak swaar reën oor kleiner gebiede.
Die rigting van beweging van hierdie tipe stelsel is moeilik voorspelbaar omdat dit nie deel is van die normale lugvloeipatrone nie. Afsnylaagdrukstelsels kom gewoonlik van Maart tot Mei en van September tot November voor. Die sentrale tot westelike en suidelike dele van die land is die meeste onderhewig aan hierdie tipe van stelsels.
Die intensiteit van ’n afsnylaagdruk word gewoonlik onderskat omdat dit so dinamies is en saam met ’n koue front kan ontwikkel.
Hoe lyk die res van dié seisoen?
Soortgelyke stelsels kan in die weke voor die winter nog voorkom omdat daar steeds tropiese vog in omloop is vanuit die noorde, terwyl frontale stelsels vanuit die suidweste oor die land inbeweeg. Verder kan die oorblyfsels van die La Niña-stelsel veral die westelike dele van die land beïnvloed en reën veroorsaak.
“So het daar ’n baie sterk afsnylaagdrukstelsel in die eerste week van Junie 2011 ontwikkel tydens die La Niña van die 2010-’11-seisoen en vloedtoestande het oor die sentrale tot westelike dele van die Vrystaat en die aangrensende dele van Noordwes en Noord-Kaap ontstaan. Indien na die geskiedenis gekyk word, kom afsnylaagdrukstelsels meer voor tydens La Niña-seisoene omdat bolugtoestande dan gunstiger is,” sê Van den Berg.
Nóg somerreën
Tradisioneel is die teenwoordigheid van La Niña-toestande gunstig vir reën in die herfs. “Tans het die La Niña-stelsel reeds oorgegaan in neutrale toestande, maar daar is gewoonlik ’n vertragingseffek omdat klimaatspatrone tyd vat om te reageer op veranderde oppervlaktoestande. Dus is daar steeds ’n kans dat reën in April en Mei kan voorkom, veral oor die sentrale tot westelike dele van die land.”
Van den Berg sê die kans op reën word versterk deur die afwesigheid van sterk tropiese laagdrukstelsels in die westelike Indiese Oseaan sedert die vertrek van sikloon Freddy, hoewel daar tans ’n swakkerige tropiese laagdruk oos van Madagaskar ontwikkel. “Met see-oppervlaktemperature wat koeler begin word omdat die meeste sonenergie nou verder noordwaarts beweeg, word die kans op verdere siklone en tropiese storms nou baie klein. Dit verhoog die kans op reën oor Suider-Afrika, hoewel dit na die einde van die reënseisoen toe staan.”
Na verwagting gaan reën vir die laaste deel van Maart en die eerste deel van April meer gekonsentreer wees oor die noordelike en oostelike helfte van die land, wat dan insluit Noordwes, die Vrystaat, Limpopo, Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en groot gedeeltes van die Oos-Kaap. Neerslae behoort oor die algemeen minder as 30 mm te wees, hoewel swaar buie steeds oor kleiner gebiede kan voorkom.
“Teen die laaste deel van April en die eerste helfte van Mei kan reënval meer weswaarts in die droë Noord-Kaap en Namibië voorkom,” sê Van den Berg. “Reën kan ook steeds voorkom oor die sentrale tot westelike dele van die somergraangebied wat probleme kan veroorsaak met die oes van grane.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.