
Van Saterdag af gaan koue lug oor die land ingevoer word wat verantwoordelik gaan wees vir kouer toestande, en veral laer minimum temperature. “Minimum temperature van naby of onder vriespunt is moontlik. Ryp kan rondom 26 tot 28 September oor veral die Sentraal-, Oos- en Suid-Vrystaat voorkom, asook oor die noordelike dele van die Oos-Kaap,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Minimum temperature van onder 5 °C word verwag in die oostelike dele van die Noord-Kaap langs die Oranje- en Vaalrivier, terwyl ryp in laaggeleë dele kan voorkom. Koue nagte het die afgelope weke oor dele van die land voortgeduur.
Minimum temperature onder vriespunt het voorgekom by Bothaville, Hoopstad en Leeudoringstad. Op 17 September was die minimum temperatuur -2,6 °C op Warden in die Oos-Vrystaat. “Die risiko vir rypskade word groter as nog koue sou voorkom, want vrugtebome en druiwe het reeds begin bot, veral in die westelike binneland. Koring begin nou in ’n rypgevoelige stadium kom.”
Reën
Die kans op reën oor die sentrale tot oostelike en suidoostelike dele van die land verbeter in die laaste paar dae van September en veral in die eerste week van Oktober. Vanaf 29 September gaan ’n laagdrukstelsel oor die noordwestelike binneland en westelike dele van Botswana begin ontwikkel, wat tropiese vog suidooswaarts kan laat beweeg vanaf ongeveer 29 September.
Die stelsel kan reën oor Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Gauteng en die suidelike dele van Mpumalanga tot gevolg hê. Tans dui weermodelle op neerslae van 10 mm tot 20 mm tot in die tweede week van Oktober. “Minder of geen reën word verwag oor die noordelike dele van Suid-Afrika, Zimbabwe en die oostelike dele van Botswana nie vanweë die posisie van die hoogdrukstelsel. Min of geen reën word ook verwag oor die westelike binneland nie.”
Van 10 mm tot 20 mm reën is in die laaste week van September oor die grootste deel van die winterreënstreek moontlik. “Verdere ligte reën kan in die tweede week en in die laaste deel van Oktober voorkom,” sê Van den Berg. Die streek se minimum temperature gaan onder 10 °C bly tot ten minste die tweede week van Oktober, terwyl maksimum temperature onder 15 °C gaan wees van 25 tot 30 September.
La Niña-stelsel
Op langer termyn lyk toestande baie goed vir reën in die middel- tot laatsomer, hoewel die vooruitsig nie gunstig is vir swaar reën in Oktober nie. “Dit is redelik in ooreenstemming met die verwagtings vir reënval tydens La Niña-toestande waar die aanvang van die reënseisoen op die normale tot ietwat later as normale tyd is.”
Sterk aanduiders van die impak van die La Niña-stelsel op die globale klimaat is reeds teenwoordig, met die uitermatige warm en droë toestande wat gesien word in die suidwestelike dele van Kalifornië en Nevada in Amerika, asook vloede in Sudan.
“Die voorkoms van tropiese storms wat die ooskus van Amerika teister, kan nie in verband gebring word met die La Nina-stelsel nie,” sê Van den Berg. “Baie reën het ook nog nie oor die oostelike en suidoostelike dele van Australië voorgekom nie, wat gewoonlik ’n sterk korrelasie met natter toestande en ’n La Niña-stelsel ervaar.”