
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n oranje vlak 9-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën en wydverspreide verspoeling van paaie en nedersettings oor die distrikte Mopani en Vhembe in Limpopo en die distrik Ehlanzeni in Mpumalanga.
’n Oranje vlak 5-waarskuwing is ook uitgereik vir ontwrigtende reën en vloede oor die oostelike Hoëveld van Mpumalanga, asook die sentrale en noordelike deel van Limpopo. Verder is ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën en vloede oor die sentrale en westelike Hoëveld van Mpumalanga en die westelike Bosveld van Limpopo.
Die weerdiens waarsku ook oor ’n uiters hoë brandgevaar in die munisipaliteite Kai !Garib en Kareeberg in die Noord-Kaap. Mooi en warm tot baie warm weer word vir die provinsie voorspel, behalwe vir die noorde van die provinsie waar dit uiters warm sal wees.
In Gauteng en Limpopo sal dit bewolk en warm wees met verspreide buie en donderbuie.
Bewolkte en koel weer met verspreide buie en donderbuie word vir Mpumalanga voorspel. Dit sal egter warm tot baie warm in die Laeveld wees.
In die Noordwes sal dit in die ooste bewolk wees, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met enkele buie en donderbuie. In die Vrystaat sal dit gedeeltelik bewolk in die ooste wees en elders gedeeltelik bewolk en koel tot warm met enkele buie en donderbuie.
Mooi en warm tot baie warm weer word vir die Wes-Kaap voorspel. Uiters warm weer word in die provinsie se binneland en die Sentraal-Karoo-distrik verwag.
Gedeeltelik bewolkte en warm weer word vir die Oos-Kaap voorspel, behalwe vir die noordweste waar dit baie warm sal wees. Enkele buie en donderbuie word in die verre ooste verwag.
Volgens die weerdiens sal dit vandag gedeeltelik bewolk en warm wees met verspreide buie en donderbuie vanmiddag.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.