
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën wat plek-plek tot vloede en moeilike bestuurstoestande op grondpaaie kan lei in die sentrale deel van Noordwes, die Vrystaat en die suide van Gauteng.
Nog ’n vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir swaar donderstorms en vloede in die ooste van die Oos-Kaap.
’n Oranje vlak 5-waarskuwing is uitgereik vir ontwrigtende reën en moontlike vloede in die ooste van Noordwes en die Vrystaat.
’n Uiters hoë brandgevaar word in die Khai-Ma-, Kareeberg- en Ubuntu-munisipaliteit in die Noord-Kaap verwag. Mooi en baie warm tot uiters warm weer word vir die grootste gedeelte van die provinsie voorspel, behalwe vir die westelike gedeelte waar dit gedeeltelik bewolk sal wees met enkele buie en donderbuie.
In Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes sal dit bewolk en warm wees met verspreide tot wydverspreide buie en donderbuie.
Gedeeltelik bewolkte en warm weer word vir die Vrystaat voorspel met wydverspreide buie en donderbuie oor die sentrale en oostelike gedeeltes van die provinsie.
In die Wes-Kaap sal dit bewolk en koel wees met reënbuie wat gedurende die oggend oor die sentrale en suidelike gedeeltes van die provinsie verwag word. Die buie sal teen vanaand na die provinsie se noordoostelike binneland versprei.
Die weerdiens voorspel gedeeltelik bewolkte en warm weer vir die Oos-Kaap met verspreide buie en donderbuie.
In KwaZulu-Natal sal dit gedeeltelik bewolk en warm wees, maar plek-plek baie warm in die noordooste. Verspreide buie en donderbuie word vanmiddag verwag.
Nasionale ramptoestand
Me. Andrea Campher, bestuurder van Agri SA se risiko-en-rampeenheid, sê die organisasie verwelkom die verklaring van ’n nasionale ramptoestand na aanleiding van vloede in die Oos-Kaap, Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, die Vrystaat en Noordwes.
“Aangesien boere baie skade aan hul opbrengs, eiendom en lewensbestaan kan ly, moet die verklaring gevolg word deur die verspreiding van hulpbronne om verligting aan boere te verskaf en noodsaaklike infrastruktuur wat deur die vloede beskadig is, te herstel.”
Campher sê Agri SA versoek me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, om maatreëls toe te pas wat sal verseker dat verligting op ’n deursigtige en verantwoordbare manier versprei word.
Sy versoek ook boere om die onderskeie provinsiale rampbestuursentrums se impakassesserings te voltooi sodat die skade weens die weer akkuraat bepaal kan word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.