
Boere in droogtegeteisterde gebiede in en om Oudtshoorn is verheug oor die verligting wat die afgelope paar dae se reën in die streek gebring het.
Die dorp in die Klein-Karoo se drinkwaterbron, die Koos Raubenheimerdam, is 100% vol en loop vir die eerste keer sedert 2016 oor. Dít kom nadat stortreën die afgelope naweek oor die streek uitgesak het, sê die plaaslike munisipaliteit luidens ’n verklaring.
Bittersoet
Die swaar reën het oorstromings in laaggeleë gebiede veroorsaak, maar die meeste boere verwelkom die reën in die streek. Die dorp is onlangs tot droogte-rampgebied verklaar toe die dam slegs 30% vol was, sê mnr. Chad Louw, uitvoerende burgemeester. Die munisipaliteit oorweeg nou om die waterbeperkings vir Oudtshoorn op te hef.
Die reënval in die distrik het gewissel van 25 mm tot 100 mm, wat die beste in die streek is in “amper 20 jaar”, sê mnr. Laubscher Coetzee, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se algemene sakekamer en van Agri SA se afdeling vir natuurlike hulpbronne. Coetzee is ’n volstruisboer in die omgewing. Hy sê die besproeiingsdamme, die Kammanassiedam en die Stompdriftdam, is ná die reën onderskeidelik 9,7% en 20% vol.
Agterstallige waterbelasting
Terwyl die boere in die omgewing die reën verwelkom, staar agterstallige waterbelasting hulle nou in die gesig. Hulle sal nie leibeurte kry voordat hulle hul waterrekeninge vereffen het nie, sê mnr. Pieter du Plessis van HOPE SA, ’n organisasie sonder winsbejag wat droogtehulp verleen het aan boere in die gebied.
“Die publiek dink as dit gereën het, is die boere se probleme opgelos. Maar hulle sit met al die agterstallige rekeninge en die veld het minstens drie jaar nodig om ten volle te herstel.”
Berge dakke, takriviere geute
Coetzee meen egter dat die takriviere, wat nie deel van die sentrale besproeiingsgebied van die twee besproeiingsdamme vorm nie, nou loop en leibeurte aan almal kan bied. Dit is omdat die berge genoeg reën gekry het. “As die berge reën kry, dan loop jou takriviere. Ek sê altyd die berge is ons dakke en die takriviere ons geute.”
Dit is waarom die boere in die berge in ’n goeie posisie was toe dit in die laaste helfte van Oktober begin reën het, meen hy. “Hulle kon nie meer lei nie, toe het hulle hul leibeurte aan ander boere gegee.”
Terwyl die waterbeperkings moontlik opgehef gaan word, meen hy dat mense nie die droogtesituasie moet vooruitloop nie. “Totdat ons damme 50% en meer vol is, wil ek nie sê die droogte is gebreek nie,” sê Coetzee, en voeg by dat boere water steeds spaarsamig moet gebruik.
Landbou.com wag op kommentaar van die munisipaliteit oor die kwessie van waterbelasting.