
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het
’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën wat plek-plek tot
die verspoeling van nedersettings en paaie kan lei in die Stad Kaapstad, die
westelike gedeeltes van die Overberg en die suidelike gedeeltes van die Kaapse
Wynland.
Nog ’n geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir skadelike wind oor die sentrale en noordelike gedeeltes van die Wes-Kaap, asook die suide van Namakwaland in die Noord-Kaap.
’n Geel vlak 1-waarskuwing is uitgereik vir wind van minstens 60 km/h met rukwinde van 85 km/h wat infrastruktuur kan beskadig in die noordwestelike en noordsentrale gedeeltes van die Oos-Kaap.
’n Uiters hoë brandgevaar word verwag oor die oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die westelike en suidwestelike gedeeltes van die Vrystaat, suidwestelike gedeeltes van Noordwes, die Sentraal-Karoo in die Wes-Kaap en die westelike helfte van die Oos-Kaap.
In Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat sal dit vandag gedeeltelik bewolk en warm wees met enkele buie en donderbuie.
Enkele buie word langs die kus van die Noord-Kaap verwag. Elders word mooi en warm tot baie warm weer verwag. Gedeeltelik bewolkte toestande met enkele buie en donderbuie gedurende die middag word vir die noordooste van die provinsie voorspel.
Die weerdiens voorspel gedeeltelik bewolkte tot bewolkte en koel tot warm weer vir die Wes-Kaap. Enkele tot verspreide buie sal gedurende die middag voorkom met wydverspreide buie in die verre suidweste van die provinsie.
In die Oos-Kaap word gedeeltelik bewolkte tot bewolkte en warm tot baie warm weer verwag met enkele buie in die suidwestelike gedeeltes van die provinsie.
Gedeeltelik bewolkte en warm tot baie warm weer met enkele buie en donderbuie word vir KwaZulu-Natal voorspel. Dit sal uiters warm in die ooste van die provinsie wees.
* Hoe lyk die weer in jou provinsie vandag? Stuur jou weerfoto’s na nuus@landbou.com.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.