
Die leeftyd van die sikloon Freddy is reeds langer as 35 dae, wat langer is as die 31 dae wat die orkaan/tifoon John in 1994 in die Noordelike Halfrond geduur het. (Tropiese storms in die Atlantiese Oseaan word orkane genoem, in Oos-Asië word dit tifone genoem en in die Indiese Oseaan word dit siklone genoem.)
Freddy het op 6 Februarie noord van Australië en wes van Indonesië ontstaan. Dit het dwarsoor die suidelike dele van die Indiese Oseaan tot in Suider-Afrika beweeg.
“Die vorige langste rekord in die Suidelike Halfrond was die sikloon Eline in 2002, wat amper 19 dae geduur het. Dit het dieselfde pad as Freddy gevolg, dwarsoor die Indiese Oseaan. Dit was ook verantwoordelik vir vloedtoestande oor die noordoostelike dele van die land en veral oor die Krugerwildtuin,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Hoewel Freddy afgegradeer is tot ’n tropiese storm toe dit die eerste keer oor Mosambiek inbeweeg het, het dit weer versterk toe dit terugbeweeg het oor die Mosambiekkanaal. Die oppervlakwater oor groot gedeeltes van die Indiese Oseaan is bokant 30 °C en dit verskaf energie vir die sikloon om sterker te kan ontwikkel. Sodra dit oor land beweeg, verswak die intensiteit omdat die voedingsbron van energie verswak en omdat dit obstruksies op land tref.
Ses keer versterk
Freddy het al ses keer versterk. Meer onlangs het dit weer die Mosambiekse kusgebiede teen ’n snelheid van 165 km/h getref op pad na die binneland en Malawi rondom 11 Maart. Op 13 Maart was dit oor die westelike dele van Sentraal-Mosambiek en dele van Malawi met windsnelhede van ongeveer 65 km/h.
UPDATE: Record-breaking #CycloneFreddy hit #Mozambique over the weekend, battering the country for a second time.
— World Food Programme (@WFP) March 13, 2023
WFP has so far provided assistance and logistics support to provinces hit by the first landfall and remains on the ground, ready to scale up efforts. pic.twitter.com/kDON0FOGfk
Voorspellings dui aan dat oorblyfsels van Freddy rondom 16 Maart weer oor die Mosambiekkanaal gaan inbeweeg, maar hierdie keer lyk dit asof dit gaan verswak en op die normale pad suidooswaarts in die Mosambiekkanaal in die suidelike Indiese Oseaan gaan wegbeweeg vanaf ongeveer 17 Maart.
Die ‘zombie’
Van den Berg sê kundiges probeer vasstel hoekom Freddy eerstens so lank voortgeduur het en tweedens hoekom dit so intens was. Tans is daar baie onsekerheid hieroor, maar weens die feit dat Freddy ses keer versterk en as’t ware weer tot lewe gekom het, word daar tans na die verskynsel as ’n “zombie”-sikloon verwys, “wat telkens uit die dood uit opgestaan het”.
“Of klimaatsverandering iets daarmee te doen het, is moeilik om te verklaar, maar teoreties kan warmer oppervlakwaters meer en sterker laagdrukstelsels laat ontstaan en ook onderhou. Wat baie moeilik verklaarbaar is, is hoekom dit telkens terugbeweeg het in die Mosambiekkanaal nadat dit oor Madagaskar en Mosambiek beweeg het.”
Hy verduidelik verder: “Omdat die energie-opbergingskapasiteit van water ten minste vier keer meer is as dié van landmassa, word oortollige energie as gevolg van globale verwarming beter in water en dus oseane opgeberg vir vrystelling. Hierdie neiging het ook reeds ’n verhoging in die aantal en intensiteit van orkane aan die ooskus van Amerika veroorsaak in die jongste dekade.”
Siklone in die westelike Indiese Oseaan veroorsaak dikwels oorstromings indien dit naby aan die ooskus van Suid-Afrika voorkom. Daarteenoor is dit ook verantwoordelik vir droër toestande en baie hoë temperature oor die binneland.
“Met die verwagte verswakking en verdwyning van Freddy in die volgende week gaan dit min invloed uitoefen op weerstoestande in Suider-Afrika,” sê Van den Berg.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.