Boere “tik nog die glas”, luister draadloosweer, kyk die tekens in die natuur en weet nog in sekere dele van die land waai die oostewind ná ryp. Dit is net dat daar nou soveel ander, meer gesofistikeerde en omvattender hulpmiddels beskikbaar is. En hulle word gebruik.
Die beskikbaarheid van weerstasies op plase, en webwerwe wat reën-, wind- en temperatuurvooruitsigte met taamlike akkuraatheid voorspel, bied deesdae net soveel moontlikhede as die toerusting en modelle wat vir weervoorspellers beskikbaar is.
Uit gesprekke met boere kom ’n mens agter hoe intensiewer die boerdery is, hoe meer hulpmiddels gebruik hulle. Ekstensiewe veeboere stel ander vereistes as graan- of vrugteboere, en hou die natuur en die toestand van die veld met baie fyner oë dop.