
Redelike swaar reënneerslae het sedert begin Maart oor groot dele van die sentrale tot westelike binneland voorgekom, met minder reën oor die noordelike en noordoostelike dele. Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê in die distrik Van Zylsrus in die oostelike Kalahari het tot 140 mm voorgekom. In die baie droë Oos-Kaap rondom Cradock het daar vir die eerste keer in ’n hele paar seisoene goeie neerslae van tot 60 mm voorgekom.
“Ook in die distrik Jansenville het dit die afgelope twee weke begin reën ná ’n droogte van etlike seisoene. Die grootste deel van Suid-Afrika se weidingsgebiede is nou uit die greep van die droogte, hoewel die effek van die droogte nog lank gaan aanhou.”
Van den Berg sê groot dele van die Suidwes-Vrystaat en die aangrensende Noord-Kaap het sedert begin Maart van 50 mm tot 80 mm reën gemeet.
Verliese
Rosyntjieboere in die Noord-Kaap het ook reën gehad in die laaste deel van die oestydperk en veral die droogproses. Dit veroorsaak groot gehalteverliese.
Van den Berg sê droogteskade begin ook kol-kol ondervind word onder somergewasse op die Hoëveld van Mpumalanga vanweë droër toestande oor die oostelike dele van die somergraangebiede. “Veral sojabone kry swaar in hierdie gebiede aangesien dit nou in die belangrike pitvulstadium is. Dit kan groot opbrengsverliese veroorsaak.”
Van 20 mm tot 50 mm
Hoewel daar weer ’n swak tropiese storm oos van Madagaskar voorkom, behoort dit nie reënvaltoestande oor Suid-Afrika se binneland nadelig te beïnvloed nie. Droër toestande is tydelik moontlik oor die noordelike dele van Suid-Afrika. “Op kort termyn is daar ’n baie goeie kans op verdere reën oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, die hele Noordwes, die hele Vrystaat, die hele Gauteng, die suidelike dele van Mpumalanga, die hele KwaZulu-Natal en die sentrale tot noordelike dele van die Oos-Kaap. Dié gebiede kan van 8 tot 20 Maart neerslae van tussen 20 mm en 50 mm verwag,” sê Van den Berg.
Hy sê vir die res van Maart kan dit byna daagliks reën oor groot dele van die somerreëngebied. “Dit kom voor of die La Niña-stelsel natter toestande voor die winter kan veroorsaak. Met die tropiese storms in die westelike Indiese Oseaan wat afneem in intensiteit en frekwensie, kan dit verder bydra dat La Niña se effek nog sterk kan deurwerk.”
Dit is bekend dat La Niña verantwoordelik is vir gemiddelde tot bogemiddelde reënval oor veral die sentrale en westelike, asook die suidoostelike binneland in die laatsomer. Van den Berg sê daar is ’n sterk moontlikheid dat reën tot so laat as Mei kan voorkom oor veral die sentrale tot westelike somergraangebiede. Dit kan die stroopproses van veral sonneblomme, sojabone en grondbone vertraag.