
Van 20 mm tot 40 mm reën is vandeesweek en die naweek oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal moontlik. Reën sal aanvanklik oor die oostelike en sentrale dele begin voorkom, en teen Vrydag meer weswaarts uitbrei, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Minder as 20 mm kan voorkom oor bykans die res van Suid-Afrika met die minste reën oor die verre noordelike dele van Limpopo en die westelike dele van die Noord- en Wes-Kaap. Baie goeie neerslae van tot 50 mm is moontlik oor die sentrale tot noordelike dele van Namibië vanaf ongeveer 5 tot 12 Maart.”
Van den Berg sê die bewolkte toestande gaan veroorsaak dat maksimum temperature redelik gaan daal oor veral die somerreëngebied en tydelik tot Saterdag oor die winterreëngebied. Van Sondag af gaan temperature oor veral die sentrale tot westelike dele van die Wes-Kaap weer styg tot bokant 35°C tot ongeveer 20 Maart, wanneer daar weer ’n afkoeling en verdere ligte reën kan wees.
Van 12 en 20 Maart word ’n droër tydperk weer voorspel.
La Niña en tropiese storms
Weermodelle dui tans aan dat die La Niña-stelsel nog tot April en selfs Mei verantwoordelik kan wees vir gemiddelde tot bogemiddelde reën oor die somerreëngebied.
Wat die voorkoms van tropiese storms betref, sê Van den Berg die noordelike dele van die Indiese Oseaan het begin afkoel, wat die ontwikkeling van verdere intense tropiese stelsels kan beperk. Daar is ’n smal strook van warmer water reg oos van Madagaskar wat steeds warmer as normaal is en waar tropiese stelsels aktief is, maar dit sal na verwagting onskadelik suidwaarts tussen Madagaskar en Wes-Australië in die Indiese Oseaan in wegbeweeg.
’n Verdere swakkerige tropiese laagdrukstelsel kan net oos van Madagaskar ontwikkel van 6 tot ongeveer 10 Maart, maar dit behoort nie die oostelike kusgebiede van Madagaskar te bereik voordat dit verswak nie. Dus lyk dit of die sikloonseisoen baie naby aan die einde is, sê Van den Berg.
Wat beteken Australië se oorstromings?
Swaar reën en oorstromings het die afgelope naweek rondom Brisbane in Queensland, Australië, voorgekom. Van den Berg sê die swaar neerslae het oor die kusgebiede en aangrensende binneland in die gebied noord van Brisbane suidwaarts tot byna by Tasmanië voorgekom. Volgens weerverslae het neerslae van Saterdag en Sondag in van die gebiede van 400 mm tot 700 mm gewissel. By Gympie is Saterdag 260 mm binne twee uur gemeet.
Volgens weerverslae het van die ergste oorstromings sedert 2011 in van die gebiede voorgekom het met die vorige sterk La Niña-stelsel.
Sterk ooreenkomste bestaan Suid-Afrika en die oostelike dele van Australië se weerpatrone, veral tydens El Niño- en La Niña-gebeurtenisse. Van den Berg sê Australië se erge storms van die naweek is ’n aanduiding dat die La Niña-stelsel se effek nog nie uitgewoed is nie, hoewel dit effens begin verswak.
“Dit is bekend dat wanneer ’n matige tot sterk La Niña-verskynsel teenwoordig is, die reënseisoen verleng tot in Mei oor die somerreëngebied van Suid-Afrika. Daar is dus nog amper drie maande van die somerreënseisoen moontlik. Met die tropiese sikloonseisoen wat einde se kant toe staan en verantwoordelik was vir die versteuring in reënvalpatrone gedurende Februarie, is die kans dus goed dat die somerreënseisoen binne die volgende maand of twee kan hervat voordat die winter aanbreek.
“Dit is moeilik om voorspellings van oorstromings te maak vir Suid-Afrika, soos wat tans in Queenland en Nieu-Suid-Wallis voorgekom het, maar die huidige aanduidings is dat verdere reën moontlik is oor Suider-Afrika,” sê Van den Berg.