Sowat 70% van die winterreënstreek se reën val gewoonlik van Mei tot September. Dié tydperk is dus die belangrike tydperk vir die produksie van onder meer wintergrane, asook vir die opvul van die streek se damvlakke sodat produksie steeds gedurende die droër somermaande kan voortgaan.
“Wat die komende wintermaande betref, is daar nog geen sterk sein na uiterste nat of droë toestande nie,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Met die La Niña-toestand wat in neutrale toestande oorgegaan het, is die kans rondom 50% vir ten minste gemiddelde reënval in die winterreëngebied in die komende maande.”
Volgens weergeskiedenis het daar in ’n soortgelyke jaar soos vanjaar, naamlik 2012, in die distrik Paarl sowat 500 mm reën van 1 Mei tot 30 September geval, wat ongeveer 25% ondergemiddeld vir die omgewing is. Lutzville aan die Weskus het in 2012 ’n totaal van 138 mm gemeet teenoor die langtermyngemiddelde reënval van ongeveer 123 mm, dus ongeveer 10% ondergemiddeld.