
Die eerste sneeu kan Donderdag oor die suidelike dele van die Wes-Kaapse berge voorkom, waarna dit noordooswaarts gaan uitbrei na die Oos-Kaap. Rondom Vrydag en Saterdag kan dit selfs sneeu in Lesotho en op die aangrensende dele van die Drakensberge in die Vrystaat en KwaZulu-Natal veroorsaak, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Sneeu met baie koue toestande is nie ongehoord in Augustus of selfs later nie. Dit is die tyd van die jaar wanneer die bolug nog baie koud is, maar meer tropiese vog en vog vanaf die Indiese Oseaan begin oor die land inbeweeg.Van den Berg sê op 28 en 29 Augustus 1981 het baie swaar sneeu in die binneland op plekke soos Aberdeen, De Aar en selfs Pofadder voorgekom. Op 10 September van dieselfde jaar het swaar sneeu ook oor die oostelike binneland op plekke soos Witbank, Johannesburg en Pretoria voorgekom. In 1987 het dit swaar gesneeu oor die oostelike binneland rondom 25 en 26 Augustus, asook 26 tot 28 September.
Van den Berg sê nog koue weer kan in die laaste deel van Augustus en in September voorkom. “Die stelsels verander tans baie vinnig. Dis belangrik dat boere weervoorspellings op kort termyn dophou om seker te maak dat hulle byvoorbeeld betyds toesien dat hul vee, veral kleinvee, voldoende beskut is.”
Koue, reën en wind
Van den Berg waarsku veral kleinveeboere om betyds voorbereidings te tref om hul diere te beskut, veral geskeerde kleinvee of ooie met lammers. Die frontale stelsel gaan baie koue lug vanuit die suide invoer met baie sterk winde uit veral ’n suidelike tot oostelike rigting. “Aanvanklik gaan baie sterk noordweste- tot westewinde tot Woensdagoggend waai, waarna die wind suid gaan draai en later die week gaan die wind suidoos en ooswaarts draai. Teen Saterdag gaan dit noordoos draai en baie sterk waai oor groot dele van die land teen ’n spoed van tot meer as 50 km/h. Dit is veral rondom Vrydag tot Sondag dat dele van die Ooskus baie sterk en stormagtige weer kan ervaar.”
’n Sterk laagdrukstelsel word van Vrydag af oor die sentrale dele van die Noord-Kaap voorspel, wat Saterdag ’n afsnylaagdrukstelsel kan vorm. Van den Berg verduidelik dat ’n afsnylaag ’n kleiner laagdrukstelsel is wat intens oor kleiner gebiede baie sterk opligting van vogtige lug en swaar reën kan veroorsaak. “Redelike swaar reën is dus moontlik vanaf Vrydagnag tot ongeveer Sondag oor die suidoostelike dele van die Noord-Kaap, suidelike dele van die Vrystaat en aangrensende dele van die Oos-Kaap, asook groot dele van Lesotho.”
Van den Berg sê volgens die voorspelling kan die uiters droë Oos-Kaapse kusgebiede en aangrensende binneland redelike goeie neerslae kry, hoewel die swaarste reën verder noordwaarts gaan voorkom. Ligte reën rondom 10 mm is moontlik oor dele van die Klein-Karoo, maar die meeste reën word meer noord verwag.
Hoewel temperature oor die noordelike binneland ook kan daal, is dit hoofsaaklik as gevolg van ’n redelike sterk, koue oostewind. Op die Hoëveld van Mpumalanga en aangrensende dele van die Oos-Vrystaat kan maksimum temperature van Vrydag tot Sondag tot so laag as 10 °C daal, maar as gevolg van die winderige toestande wat lugvermenging veroorsaak, behoort minimum temperature nie tot onder 5 °C te daal nie.
“Verder noord in Mpumalanga en Limpopo gaan temperature redelik koel tot matig wees met ’n baie klein gevaar vir koue en ryp, hoewel daar rondom Vrydag tot Sondag ’n redelike daling in dagtemperature kan voorkom. Temperature van sowat 15 °C word op sommige plekke, soos Polokwane, voorspel.”’
Van den Berg waarsku ook teen wegholveldbrande in dié tyd, veral voor die eerste behoorlike lentereën geval het. “Die brandgevaar bly baie hoog in die binneland in veral die grasveld- en bosveldgebiede, met baie sterk winde wat saam met die frontale stelsels voorkom en die baie brandbare materiaal wat teenwoordig is.”