
’n Sterk frontale stelsel gaan van Donderdag af oor Suid-Afrika inbeweeg en onder meer reën na die winterreënstreek bring. Tot 30 mm of meer word oor die Rûens en Suid-Kaap verwag, terwyl 20 mm of meer vir die Swartland, Kaapse metropool en die Wynland-distrik voorspel word.
Die front kan tot die eerste week van Junie reën oor dié streek veroorsaak. “Reën is ook moontlik vir die Weskus. Daar kan selfs reën voorkom tot in die suide van Namibië, maar minder as 10 mm tot 15 mm. Ligter neerslae van tot 10 mm is ook moontlik oor die suidwestelike binneland van die Noord-Kaap op plekke soos Calvinia, Williston, Carnavon en Sutherland,” sê Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Baie koue toestande met sterk winde kan voorkom vanaf 24 Mei en kan saam met die verwagte reën baie gevaarlike toestande vir veral kleinvee skep,” waarsku Van den Berg. “Weermodelle dui tans aan dat verdere swaar reën van tot 40 mm of meer van ongeveer 14 tot 18 Junie oor groot dele van die Wes-Kaap kan voorkom.”
Noemenswaardige sneeu
Namate die koue front oor die land beweeg, word nat en baie koue toestande van 28 Mei tot 2 Junie oor die oostelike en suidoostelike binneland voorspel. “Dit word veral oor die noordelike dele van die Oos-Kaap verwag op plekke soos Barkly-Oos, Aliwal-Noord, Cradock en Queenstown, asook op plekke soos Van Reenen, Underberg en Matatiele in KwaZulu-Natal. Dit kan ook koud en nat wees oor die Suidoos-Vrystaat op plekke soos Harrismith, Fouriesburg en Smithfield.”
Baie koue toestande met minimum temperature tot benede -5 °C kan voorkom op Barkly-Oos, Molteno, Elliot, Lady Grey, Bloemfontein, Fauresmith, Bethlehem, Zastron, Smithfield en Fouriesburg van 29 Mei tot 2 Junie. Daar is ook ’n kans op redelike noemenswaardige sneeuval oor die noordelike dele van die Oos-Kaap, suidwestelike dele van KwaZulu-Natal, die Oos-Vrystaat teenaan die Drakensberg en veral oor Lesotho teen 29 Mei tot 2 Junie.
“Reën van 30 mm of meer kan voorkom oor die kusgebiede van die Oos-Kaap, en teen einde Mei is daar ’n gevaar vir oorstromings in die Nelson Mandela-metropool,” waarsku Van den Berg.
Reën en baie koue toestande met temperature onder vriespunt kan ook voorkom oor die res van die Vrystaat, suidoostelike en oostelike dele van Noordwes, Gauteng, die suidelike dele van Limpopo, die hele Mpumalanga, asook die res van KwaZulu-Natal van 28 Mei tot 2 Junie. Verdere reën is ook moontlik van die middel tot tweede deel van Junie oor die sentrale tot suidoostelike dele van die land.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.