
Die winterstorm waaroor die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sedert die begin van die week waarsku, het gistermiddag oor die Wes-Kaap ingeskuif en oornag gesorg vir swaar reënval in die Kaapse metropool en sneeu in ander dele van die Wes-Kaap.
Volgens Snow Report SA se Facebookblad het sneeu in die Karoo, die Boland en die Koue Bokkeveld op onder meer Ceres, Villiersdorp, Rawsonville, Sutherland en die Sederberge geval. Volgens die blad word sneeu ook op Tafelberg verwag.
Mnr. Rossouw Cillié, boer van die distrik Ceres, sê vir die tweede keer dié winter lê ’n dik sneeukombers by Laastedrift-boerdery en hulle bibber behoorlik.
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê hoewel die meeste van die verwagte reën reeds geval het, word verspreide reënbuie steeds vanmiddag en vanaand verwag wanneer ’n tweede koue front deur die provinsie beweeg.
Die reënval wat sover gemeet is, is luidens ’n verklaring deur sy departement 53,4 mm in die Paarl, 69,2 mm op Stellenbosch, 36,4 mm op Wellington, 58 mm in die Elgin- en Grabouw-gebied en 12,6 mm op Riversdal.
Aangesien die SAWD stormagtige weerstoestande met sterk wind, rowwe seetoestande en baie koue temperature vandag en môre verwag, moedig Bredell inwoners van die Wes-Kaap aan om veilig te bly en so min moontlik te reis. Alle covid-19-inentingsentrums sal ten spyte van die gure weer oop wees.Die provinsie se noodnommer is 112.