
Die Suid-Afrikaanse weerdiens maan dat donderstorms, met swaar neerslae en sterk winde, erge weerlig en hael wat vandag plek-plek oor die Wes- en Noord-Kaap kan voorkom, kan versterk tot Saterdag. Swaar neerslae en stormagtige weer word môre ook vir die westelike dele van KwaZulu-Natal verwag, sê mnr. Ishmael Moyo, weervoorspeller.
Yellow level 2 warning: Thunderstorms: Eastern Cape: 10 December 2022 11:00 - 22:00 pic.twitter.com/YC99ELRphE
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) December 9, 2022
Volgens Moyo word storms en neerslae Sondag oor groot dele van die Wes-Kaap, die sentrale dele van die Noord-Kaap, die Vrystaat, Gauteng en KwaZulu-Natal voorspel. Dié toestande word Maandag verwag oor dele van die Wes-Kaap, die noordelike dele van die Oos-Kaap, dele van Limpopo, die Vrystaat en dele van KwaZulu-Natal.
Yellow level 2 warning: Thunderstorms: KZN: 10 December 2022 13:00 - 22:00 pic.twitter.com/vLVItZiPRj
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) December 9, 2022
Twee stelsels
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, verduidelik daar is hoofsaaklik twee verskillende weerstelsels wat twee gebiede in die land van môre tot Donderdag 15 Desember gaan raak.
Die eerste is die afsnylaagdruk wat oor die Atlantiese Oseaan begin ontwikkel en reën en storms na verskeie dele van die land gaan bring van môre tot Dinsdag. Die stelsel gaan veral die suidelike en suidwestelike binneland raak.
“Swaar reën kan veral teen Sondag oor die suidelike dele van die Weskus, asook die aangrensende binneland voorkom. Teen Maandag kan die stelsel ooswaarts beweeg en verdere swaar reën veroorsaak oor die Klein-Karoo en verder na die suidkus.
“Neerslae van 40 mm of selfs meer in ’n baie kort tydperk is plek-plek moontlik, wat die risiko vir vloede verhoog. Dit sal na verwagting gepaard gaan met baie sterk winde uit ’n oostelike tot noordelike rigting wat vogtige lug suid- en suidweswaarts gaan invoer. Dit beteken donderweer kan voorkom – en dit verhoog die waarskynlikheid van hael.”
Tweede stelsel
Van Dinsdag tot Donderdag (13 tot 15 Desember) is daar weer ’n kans op ’n volgende afsnylaagdruk oor die suidelike dele van die land. Dit kan verdere swaar reën oor veral die Klein-Karoo en die Tuinroete veroorsaak.
Die tweede stelsel is as gevolg van ’n groter gebied van laagdruk of trog van laagdruk wat oor die sentrale dele van die land ontwikkel, en heelwat tropiese vog vanaf die noordoostelike dele van Namibië en Botswana suidooswaarts gaan laat beweeg. “Dan kan swaar reën voorkom oor die sentrale tot noordoostelike dele van Suid-Afrika.”
Vloede
“Wat die huidige situasie uiters gevaarlik maak, is dat daar sterk laagdrukstelsels oor kleiner gebiede ontwikkel. Met tropiese vog in omloop, het dit die potensiaal om baie swaar reën en vloede oor kleiner gebiede te veroorsaak. Die gebiede met die grootste risiko is die sentrale tot oostelike dele van die Wes-Kaap wat strek van die Hexriviervallei in die weste tot Mosselbaai in die ooste. Dit kan van suid na noord strek van Hermanus tot Beaufort-Wes.”
Van den Berg sê dit is tans baie moeilik om ’n geografiese gebied vas te pen omdat die stelsel baie dinamies is en vinnig kan verander. Dit kan dus ook in ander gebiede swaar neerslae veroorsaak.
“Die gebiede in die somerreëngebied met die grootste risiko is die suidelike dele van Limpopo, bykans die hele Gauteng en Mpumalanga, die Oos-Vrystaat en veral groot dele van KwaZulu-Natal.”
Die risiko vir vloede, storms en hael word van 16 Desember af kleiner met stelsels wat teen dan kon verswak of ooswaarts beweeg het.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.