Die toekoms van elke landboubedryf hang af van wat vorentoe met koolstofdioksiedvrystellings in die atmosfeer gaan gebeur. Die omvang van klimaatsverandering is steeds in mense se hande, maar dit begin nie by die landbou nie, dit begin by afhanklikheid van steenkool.
Só het prof. Francois Engelbrecht, direkteur van die Global Change Institute aan die Universiteit van die Witwatersrand, op die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se konferensie in Pretoria gesê.
“As ons teen die middel van die eeu steeds afhanklik is van fossielbrandstowwe, gaan die invloed van klimaatsverandering verwoestend wees. As die wêreld dit regkry om koolstofdioksiedvrystellings teen 2030 met 45% te verminder, kan ons aardverwarming steeds beperk tot minder as 1,5 °C op ’n globale skaal. Teen 2050 moet ons koolstofneutraal wees.”