
Weermodelle dui tans aan dat ligte neerslae oor vir die volgende twee tot drie weke oor die somerreënstreek kan voorkom, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Vanaf die tweede week van Februarie kan neerslae begin toeneem oor Noordwes, die Vrystaat, die suidelike dele van KwaZulu-Natal en die noordelike dele van die Oos-Kaap wanneer daar ’n bietjie meer tropiese vog weer oor Botswana kan afbeweeg.
Tropiese laagdrukstelsels in die Indiese Oseaan gaan in die eerste week van Februarie suid en suidooswaarts begin beweeg tot oor die suidelike dele van Madagaskar en daarna begin verswak.
Vanaf die tweede week van Februarie kan toestande vir reën oor die somerreëngebied geleidelik begin verbeter en vanaf ongeveer die laaste twee weke van Februarie weer swaar reën veroorsaak oor die sentrale tot oostelike dele.
Vanaf die tweede deel van Maart kan reënvaltoestande begin verswak oor veral Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Vrystaat wanneer die band van reën weswaarts gaan begin skuif met meer reën wat dan verwag word oor die sentrale tot westelike dele van die somerreënstreek.
La Niña se spits
Toestande lyk tans gunstig vir verdere reën vanaf die tweede deel van Februarie, en swaar reën kan nie uitgesluit word nie.
Van den Berg sê daar moet in ag geneem word dat die huidige La Niña-verskynsel middel Januarie ’n spits bereik het. Die La Niña-stelsel van die 2020-’21-seisoen se spits was ses weke vroeër.
“Dus behoort die effek van die huidige La Niña-stelsel tot laat in die somer aan te hou. Hoewel die Indiese Oseaan se temperature effens ongunstig geword het, is dit waarskynlik tydelik en kan daar steeds sterk mededinging vir tropiese vog wees as gevolg van sterk ontwikkelde laagdrukstelsels oor die binneland.”
Vloedrisiko oor Benede-Oranjerivier
Die watervloei in die Benede-Oranjerivier kan vandeesweek byna dieselfde vlak bereik as in 2021 teen ongeveer 3 400 kubieke meter per sekonde. Die rivier het Maandag (24 Januarie) by Prieska teen ongeveer 3 700 (kumek) gevloei, en sal na verwagting later die week sy spits bereik.
“Met droër toestande in die binneland sal die gevaar vir oorstromings begin verminder teen die einde van die maand,” sê Van den Berg. “Verdere vloedtoestande is moontlik teen einde Februarie of Maart.”