
Die gebiede waar goeie neerslae van tot 100 mm vir dié tydperk moontlik is, sluit in die Oos- en Noord-Vrystaat, Gauteng, die oostelike dele van Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die suidelike dele van Limpopo. Tot 50 mm kan in dié tydperk voorkom oor die westelike dele van die Vrystaat, die suidelike dele van Noordwes en die oostelike dele van die Noord-Kaap.
Slegs ligte neerslae van minder as 30 mm word voorspel vir die sentrale tot westelike dele van die Noord-Kaap, die westelike dele van Noordwes, die noordelike dele van Limpopo en die grootste deel van die Oos- en Wes-Kaap.
“Indien die swaarder reënval realiseer, sal dit weer ’n risiko skep vir vloede aangesien die reën hoofsaaklik in die opvangsgebied van die Vaaldam en tot ’n mindere mate oor die opvangsgebied van die Oranjerivier voorspel word,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Weerstelsels dui tans op ligter neerslae oor die laaste 10 dae van Desember oor die grootste deel van die land. “Neerslae behoort ligter te wees oor die oostelike helfte van Suid-Afrika met baie min reën oor die westelike dele. Verdere ligter neerslae lyk moontlik in Januarie oor die oostelike helfte van Suid-Afrika, met droër toestande vanaf die laaste deel van Januarie. Vir die westelike dele lyk toestande ook ongunstig vir reën in die tweede deel van die seisoen,” sê Van den Berg.
Oos-Kaap en winterreëngebied
Met die ontwikkeling van ’n laagdruktrog oor die sentrale tot westelike binneland in die volgende weke is reën moontlik oor die suidelike dele van Suid-Afrika, veral oor die Oos- en Suid-Kaap.
“Meer as 20 mm met ten minste vyf tot agt dae met reën kan voorkom van 9 tot 16 Desember en van 19 tot 22 Desember. Caledon in die Overberg kan byvoorbeeld rondom 30 mm verwag in die volgende twee weke,” aldus Van den Berg.
Baie min reën met slegs ligte neerslae word verwag oor die Kaapse Metropool, die Wynland, die Swartland en Weskus. Minder as 10 mm word verwag op plekke soos Malmesbury, die Paarl en Stellenbosch, terwyl 10 mm tot 20 mm moontlik is oor in die Hexrivier- en die Breederiviervallei op plekke soos Worcester en Robertson. Meer as 20 mm is moontlik in die Klein-Karoo op plekke soos Laingsburg en Oudtshoorn.
Meer as 30 mm kan voorkom oor die Langkloof en aangrensende gebiede. “Daar is selfs ’n redelik goeie kans dat die steeds droë suidelike binneland van die Oos-Kaap soos Jansenville en Steytlerville ten minste 20 mm kan kry in die volgende twee weke. Daar is ook ’n kans dat meer as 20 mm in die omgewing van George en Mosselbaai voorkom nadat dit in dié dele die afgelope paar maande baie droog is.”
Hael
Van den Berg sê met die teenwoordigheid van tropiese vog, baie warm toestande en die effek van topografie is die voorkoms van hael baie moontlik oor gedeeltes van die winterreëngebied, veral oor die suidoostelike dele.
“Veral is die Langkloof en Klein-Karoo bestaan ’n groter risiko vir hael in die komende weke.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.