
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is Freddy tans sowat 400 km noordoos van Mauritius. Dit sal na verwagting naby Mauritius en La Réunion verbybeweeg namate dit verder ooswaarts beweeg.
Freddy is volgens die weerdiens ’n relatief kompakte, maar steeds intense stelsel met gemiddelde winde van sowat 200 km/h en gepaardgaande rukwinde van sowat 285 km/h. Die uiterste winde sal slegs binne ’n radius van 200 km van die stelsel ondervind word.
Volgens voorspellings van die RSMC La Réunion sal Freddy na verwagting aanhou om in die komende dae hoofsaaklik in ’n wes-suidwestelike rigting te beweeg. Dit kan die oostelike kus van Madagaskar teen môre (21 Februarie) bereik. Hoewel daar onsekerheid is oor presies waar Freddy die kus sal bereik, voorspel RSMC La Réunion dat dit tussen die kusdorpe Mahonoro en Mananjary sal wees.
Oorblyfsels van Freddy sal na verwagting in die laaste helfte van dié week oor die suidelike helfte van Madagaskar bly voorkom. Die weerdiens sê daar moet onthou word dat ’n tropiese stelsel aansienlik verswak wanneer dit land bereik.
Die weerdiens waarsku dat baie onsekerheid gepaard gaan met voorspellings vir tropiese siklone se beweging.
Die RSMC La Réunion is egter baie seker dat Freddy Beira in Mosambiek teen Vrydag 24 Februarie kan bereik.
Freddy kan dan binnelands beweeg en moontlik ’n impak op die ooste van Zimbabwe en die noordooste van Limpopo hê. Selfs as die sikloon dan verswak, kan dit steeds swaar reënval en vloede tot gevolg hê. Aangesien vloede reeds die afgelope week in Limpopo en Mpumalanga voorgekom het, waarsku die weerdiens dat verdere vloede in dié gebied katastrofies kan wees.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.