
Die tropiese storm Ana kan
vandag ’n windspoed van tot 85 km/h langs die noordelike kusgebiede van
Mosambiek bereik. ’n Laagdrukstelsel het sedert verlede week in die
Suidwes-Indiese Oseaankom ontwikkel. Die stelsel het oor die naweek oor die
westelike, sentrale en noordelike dele van Madagaskar beweeg.
Die storm het met tye intensiteit verloor. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die stelsel gister versterk namate dit terugbeweeg het oor die warm, tropiese waters van die Mosambiekkanaal. Die storm het oornag verder versterk.
Teen vroeg vanoggend het dit die sterkte van ’n matige tropiese storm bereik. Die storm word nou amptelik Ana genoem. Luidens ’n verklaring van die weerdiens gaan die storm oor die vasteland begin beweeg vanaf die noordelike Mosambiekse kusgebiede tussen Angoche en Mogincual.
Weens die sterk windtoestande wat met die storm gepaard gaan, verwag die weerdiens dat Ana “die potensiaal het om erge windskade aan infrastruktuur langs die kusgebiede van die noordelike dele van Mosambiek aan te rig.”
Verder bestaan die risiko van ’n sterk storm en oorstromings plek-plek weens swaar neerslae.
Volgens die weerdiens sal die storm nie ’n regstreekse impak op Suid-Afrika hê nie. Die stelsel sal volgens weermodelle oor die volgende twee tot drie dae weswaarts in die rigting van die Karibameer tussen Zimbabwe en Zambië beweeg.