Die langtermyngemiddelde reënval vir April in die somerreëngebied wissel van 20 mm tot ongeveer 40 mm, en dit wissel van streek tot streek. Die gemiddelde neerslae oor byvoorbeeld Upington is sowat 23 mm, terwyl dit vir Bloemfontein 46 mm is. Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die gemiddelde reënval vir April vir Delmas is 41,9 mm, Bothaville 40,8 mm, Vaalharts 40,7 mm, Bethal 37,1 mm, Lichtenburg 44,2 mm en Aberdeen 24,8 mm.
Vanjaar het 150 mm reeds van begin April tot 11 April in Bloemfontein geval, met nog ongeveer tweede derdes van die maand wat voorlê. Dit verteenwoordig reeds meer as drie keer die gemiddelde reënval vir April.
“Dit is die derde meeste reënval vir April in Bloemfontein vir die afgelope meer as 100 jaar. In April 1968 is 201 mm en in April 1943 is 190,6 mm aangeteken,” sê Van den Berg. Tydens die Aprilmaande van 1950, 1931 en 1988 is onderskeidelik 135,5 mm, 121 mm en 113,8 mm in die stad aangeteken.