
Boere in die Benede-Oranjerivier hou watervlakke fyn dop nadat die Gariep-, Vanderkloof- en Vaaldam die naweek hul 100%-kapasiteitsmerk gehaal het vanweë die goeie reën wat die afgelope weke oor groot dele van Suid-Afrika uitgesak het.
Rand Water sê op sy Facebookblad dat die Vaaldam op Saterdag 18 Desember 2021 sy 100%-merk gehaal het. Volgens inligting op die departement van waterwese se webwerf was die Vaaldam vroeg vanoggend 102,29% vol, die Gariepdam se vlak het op 104,87% gestaan en die Vanderkloofdam op 100,97%. Die Bloemhofdam is sowat 108% vol, en talle foto's en video's word gedeel van die Loskopdam wat ook oor sy wal loop. Dié inligting is verskaf op die Facebookgroep SA Reënvalverslae/Voorspellings/Damme.
Benede-Oranjerivier
Water stroom sedert die naweek oor die wal van die Gariep- en Vanderkloofdam. Mnr. Johan van der Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê grootskaalse oorstromings in die Benede-Oranjerivier kom voor wanneer die Bo-Oranjerivier-opvanggebied van die Gariep- en Vanderkloofdam asook die opvanggebied van die Vaaldam baie reën kry.
Mnr. Jors van der Westhuizen, ’n rosyn-en-wyndruifboer van die distrik Grootdrink langs die Benede-Oranjerivier, sê hulle hou die rivier se vlakke fyn dop. “Die rivier het sowat 1 m gestyg oor die naweek, maar hy stoot darem nie oor sy walle nie en het nog heelwat om te gaan voor hy wel oor die walle stroom.”
Talle tafeldruifprodusente langs die rivier is nou besig om te oes. Van der Westhuizen sê daar is boere in die distrik Keimoes en Kakamas wat sukkel om in hul wingerde te kom om te kan oes weens die neerslae en nat toestande. Hael het ook die afgelope paar weke groot skade aangerig aan verskeie distrikte se wingerde.
Van den Berg sê weermodelle dui tans aan dat minder reën en droër toestande na Kersfees oor die somerreëngebiede verwag word. “Veral in die sentrale tot westelike dele behoort die eerste deel van Januarie droër en warmer te wees. Die voorspelling van droër periodes is egter baie moeilik gedurende La Niña-seisoene, want daar is baie onstabiliteit in die lug soos ervaar word deur die winderige toestande en reënstelsels wat vinnig kan ontwikkel.”
En die risiko vir oorstromings?
Byna al die groot opgaardamme in die sentrale tot noordelike binneland is vol en rivierstelsels is in vloed. Van den Berg sê damme in die Oos-Kaap is nog baie leeg, hoewel aanvulling wel plaasvind. Die Kougadam was ’n paar weke gelede slegs 5% vol, en volgens die Gamtoos-besproeiingsraad se Facebookblad staan dié dam se vlak vandag op 15,57%.
Wat reënval op langer termyn betref, sê Van den Berg swaar reën is weer moontlik oor die sentrale en veral die oostelike dele van die somerreëngebied vanaf die tweede deel van Januarie, en die stelsel behoort meer weswaarts uit te brei van Februarie af.
Die afname in die verwagte neerslae ná Kersfees verlaag die risiko op grootskaalse oorstromings op kort termyn. “Die groot gevaar gaan waarskynlik vanaf die tweede deel van Januarie wees wanneer die verwagte swaarder neerslae damme wat steeds baie vol gaan wees, gaan tref.”