
Klimaatsverandering behels nie net ’n toename in temperatuur nie, maar verskillende komponente en dis belangrik dat boere dit verstaan om hul landbouproduksie daarvolgens aan te pas.
Só het mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, onlangs aan boere verduidelik tydens ’n inligtingsdag op mnr. Zeiss Jordaan se plaas Zuurfontein in die distrik Cradock.
Hy het aan boere verduidelik dat afwykings in die klimaat nie noodwendig klimaatsverandering is nie. Opeenvolgende droë en nat seisoene deel is van die klimaat en boere moet beplan oor hoe hulle dié verandering in siklusse op lang termyn gaan bestuur.
Verwarming
Van den Berg het gesê die aarde raak warmer. Globale jaarlikse temperatuurdata van 1850 tot 2017 toon dat temperature sedert 1920 met 1 °C gestyg het.
“Ons planeet bou hitte op en meer energie word vasgevang weens die kweekhuiseffek, aangesien kortgolfenergie die atmosfeer binnedring, maar nie weer uitgestraal word nie.”
Die meeste van die hitte word in die oseane vasgevang, wat veroorsaak dat die oseane sedert 1950 drasties verwarm het. Ongeveer 70% van die aardoppervlakte is onder water en water kan meer energie vasvang as grond. Dié toename in seetemperature het ’n groot uitwerking op weerstelsels.
Sy ontledings van minimum temperature by Prieska oor die afgelope 60 jaar toon dat rypskade in die Benede-Oranjerivier in die afgelope paar jaar ál meer toeneem, “wat nie sin maak ten opsigte van globale aardverwarming nie”.
Minimum temperature in die laatwinter en lente het die afgelope 12 jaar skerp gedaal. Daarby raak dit in die gebied vir bykans ’n maand later nog koud, met ryp wat voorkom. “Dit raak ’n gevaar vir druiwe-, pekanneut- en koringboere, want die koue kom ál later.”
Sy ontledings van die gemiddelde maksimum temperatuur in die streek skep egter ’n ander prentjie, aangesien dié temperature styg, wat beteken minimum temperature daal en maksimum temperature styg.
Die ál groter wordende verskil tussen minimum en maksimum temperature is ’n skok vir diere en plante. “As die temperatuur die een week tot -10 °C daal en die volgende week styg die maksimum temperature tot 40 °C, pas plante en diere nie maklik aan nie.”
Reënvalneigings
Dieselfde reglynige veranderinge word egter nie by reënvalpatrone gesien wanneer die gemiddelde reënval en die afwyking daarvan van 1900 tot 2015 ontleed word nie.
Van den Berg het gesê daar is eerder meer jare met ondergemiddelde as bogemiddelde reënval. Vir sy ontleding van Suid-Afrika se reënvalpatrone het hy die drie jaar lopende gemiddelde van 1959 tot nou gebruik. Dit toon ’n duidelike neiging dat natter jare volg op droër jare en dat dit nie noodwendig droër word nie.
Hy het Cradock as voorbeeld gebruik en gesê as slegs reënval in ag geneem word, is die droogte in die streek minder erg is as voorheen. “Dit is egter nie net ondergemiddelde reënval wat droogtes veroorsaak nie.”
Hy het as voorbeeld genoem dat in die Oos-Vrystaat reën al die afgelope twee dekades tydens die lente en vroegsomer wegbly. Gevolglik lewer die streek feitlik geen droëlandkoring nie.
By Cradock word ál minder reën van Mei tot Oktober gemeet, met die meeste reën van November tot April. Die reën val dus nie meer gedurende die groeityd van laatwinter tot vroegsomer nie.
“Een van die redes waarom ons swak veldproduksie het, is omdat daar nie voldoende reën in die eerste deel van die somer voorkom om wortelontwikkeling te stimuleer nie.
“Ons kry somerreën, maar min reën in die laatsomerreën en bykans niks in die winter nie. Dit reën omtrent net in Desember en Januarie.”
Daarby is die doeltreffendheid van die reën wat val, swakker. Hoewel hy nie data oor die intensiteit van reën het nie, dui Australiese navorsing aan dat dié land meer intense en swaarder reënval per reënvalgebeurtenis ervaar met gevolglike groter afloopverliese. Dit kan ook in Suid-Afrika die geval kan wees.
“In die somer is dit warm en is daar meer verdamping, wat die doeltreffendheid van reënval verder verlaag.”