
Die baie sterk watervloei in die Benede-Oranjerivier gaan na verwagting teen Donderdag by Upington ’n draaipunt bereik.
Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, het vroeër vandag gesê die departement van waterwese en sanitasie se syfers wys dat die watervlak by Prieska reeds ’n draaipunt bereik het.
Fourie monitor die dam- en riviervloeivlakke wat boere aan die Benede-Oranjerivier kan raak.
By Groblershoop sal die riviervloei na verwagting vandag (25 Januarie) sy hoogste vlak bereik.
“Die hoogtepunt van die watervloei by Upington word vir Donderdag teen 3 800 kumek (kubieke meter per sekonde) voorspel, maar dit gaan reeds môre baie naby daaraan draai. Die vlak by Upingtonbrug kan op die meeste nog so 20 cm styg,” het Fourie gesê.
Die departement se syfers wys die uitvloei by die Vanderkloofdam het gedraai. “Bloemhofdam se uitvloei word deur die loop van vandag verlaag van 2 000 kumek tot 1 400 kumek teen 14:00.”
Dam- en vloeivlakke Dinsdagoggend
Die Vaaldam was Dinsdagoggend 106,2% vol, die Bloemhofdam 102,5%, die Gariepdam 110,1% en die Vanderkloofdam 109,5%.
By Katlani, die eerste meetpunt ná die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier, het die rivier vanoggend teen 3 761 kumek gevloei, by Prieska teen 3 817 kumek, Upington 3 600 kumek, Neusberg 3 347 kumek en Blouputs 3 042 kumek.
“Ons is dankbaar dat die vloei onder 4 000 kumek kon bly. Hoewel daar plekke is waar die water in lande ingegaan het, is die skade nog baie beperk,” sê Fourie. “Ons het weereens bevestiging gekry van verskeie dele langs die rivier dat 4 000 kumek ’n redelike kritieke punt is. Bokant 4 000 kumek gaan heelwat meer boere skade begin ly.”
In die 2011-vloed het die riviervloei by Upington op 14 Januarie teen 4 734 kumek gedraai en die vorige dag by Prieska teen 4 723 kumek.
Sluise by Vaaldam
Die departement het in ’n verklaring gesê twee sluise by die Vaaldam is vandag toegemaak nadat die watervlakke ’n beter bestuurbare volume bereik het nadat die water wat uitgelaat is.
Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het gemeenskappe stroomaf gevra om steeds waaksaam te wees.
“Die sluise is nog nie almal toegemaak nie, omdat damvlakke steeds hoog bly en water moet steeds uitgelaat word terwyl ons voortgaan om die stelsel te bestuur.
“Dit beteken dat die uitvloei en die water wat stroomaf vloei, steeds op hoë vlakke is. Almal moet steeds waaksaam wees en van die gebied af wegbly, vee en toerusting veilig uit die water se pad hou en seker maak dat lewens en lewensbestaan beskerm word,” het Ratau gesê.