
Só sê mnr. Herman de Wet, TLU SA se voorsitter in dié provinsie. Plase in die noordelike dele van KwaZulu-Natal het sedert Oktober al van 600 mm tot 1 600 mm reën gemeet.
De Wet sê sommige boere het hierdie somer reeds dubbel hul normale reënval gekry.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die naweek en Maandag ’n oranje vlak 9-waarskuwing vir vloede in die ooste van KwaZulu-Natal uitgereik en nóg re?n word die week vir provinsies in die noorde en noordooste van Suid-Afrika voorspel.
Intussen het die regering Maandagaand ’n nasionale ramptoestand afgekondig nadat vloede in dele van die Oos-Kaap, Mpumalanga, Gauteng, Limpopo, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap verwoesting gesaai het.
Huise is oorstroom, voertuie is deur vloedwater weggespoel en damme en rioolaanlegte loop oor. Verdere verliese word voorspel terwyl die re?nval voortduur.
Volgens die weerdiens kan die hoë reënval toegeskryf word aan die La Niña-weerverskynsel. Voorspellings dui daarop dat La Niña in die eerste deel van die jaar steeds sal voorkom en meer reën en laer temperature as gewoonlik word in somerreënstreke verwag.
Onsekerheid oor impak
Weens die swaar reën doen gewasse versuipskade op. Veeverliese kom ook voor, wat boerderye ’n ernstige knou kan gee.
“Dit is moeilik om nou reeds te sê wat die impak gaan wees van die stormweer op die boere se oeste en om ’n oeskatting te maak.”
De Wet sê die meeste boere se gewasse was reeds teen November geplant. Tog was daar boere wat ná November, en self teen Kersfees, eers geplant het. Hulle loop nou die gevaar loop dat hul gewasse gaan versuip, indien dit nie reeds gebeur het nie.
Van die boere probeer om stikstof in die grond in te werk, maar die landerye en grondpaaie is só verspoel dat werktuie nie in die lande kan kom nie.
“Nog ’n bekommernis vir ons streek is ryp. Die afgelope twee tot drie jaar het erge ryp in die winter weggebly. Maar met al die reën wat nou uitsak is dit moontlik dat ons weer ’n koue winter gaan kry met heelwat ryp.”
Mnr. Peter-John Hassard, president van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), sê geen voorvalle is al aangemeld van ernstige skade weens die swaar reënval nie; hulle evalueer nog die situasie.
Mpumalanga hou kop bo water
Swaar reën het die afgelope week in Mpumalanga se Laeveld geval.
Die riviere is in vloed, damme loop oor en hoewel hy glo daar sal boere wees wat skade ly, het hy nog nie van hulle gehoor nie, sê mnr. Moorrees du Toit, Mpumalanga Landbou se adjunkvoorsitter vir die Laeveldstreek.
“Ons paaie verspoel. ’n Mens is altyd bang dat boere se damme breek, want dan begin hul droogte volgende week, maar in die algemeen is die reën tot dusver net goed vir ons en is ons baie dankbaar,” sê hy.
Die reën het egter reeds sy tol op provinsiale en nasionale infrastruktuur begin eis. Die N4 wat Nelspruit in Mpumalanga met Gauteng verbind, is Sondag by Schoemanskloof gesluit nadat swaar reën tot erge rotsstortings gelei het. Daar was ook rotsstortings op die N4 naby Elandsvallei op pad na Waterval-Boven.
Me. Solana Soares Nicholson, woordvoerder van die TRAC, die maatskappy wat die N4-tolroete bedryf, het gesê die N4 is oop vir verkeer in albei rigtings by Elandsvallei en Schoemanskloof.
Die paaie is egter gedeeltelik versper deur rots- en modderstortings. Daar is daarom stop-rybeperkings op albei plekke wat verkeersvloei vertraag.
Die R40 tussen Witrivier en Hazyview is weer gedeeltelik geopen met stop-rymaatreëls nadat dit verlede week gesluit is toe die helfte van die pad weggesink het.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.