
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gister ’n oranje vlak 5-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën wat kan lei tot die verspoeling van paaie en formele asook informele nedersettings, skade aan eiendom en infrastruktuur, en selfs lewensverlies asook die verlies van lewensbestaan en vee in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo.
Grootskaalse ontwrigting van verkeer weens paaie wat verspoel of gesluit moet word, en moontlike skade aan paaie en brûe kan volgens die weerdiens verwag word.
Die weerdiens het ook ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir swaar donderstorms wat plek-plek vloede en moeilike bestuursomstandighede kan veroorsaak in die Oos-Kaap, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes.
Verder sal dit vandag in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, die Vrystaat, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal bewolk en koel tot warm wees.
Die weerdiens voorspel mooi en warm tot baie warm weer vir die Noord- en Wes-Kaap. In die weste van die Wes-Kaap sal dit uiters warm wees.
* Hoe lyk die weer in jou provinsie vandag? Stuur jou weerfoto’s na nuus@landbou.com.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.